GEORGE NUUS - Buurtwagte van Rosemoor, Borcherds, Parkdene, Proteapark, Le Vallia en Conville, asook die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) voer oor naweke gesamentlike operasies uit om hul woonbuurte te beveilig en toe te sien dat inwoners die Covid-19-regulasies nakom.
"Saam met die buurtwagte bereik ons goeie suksesse, maar dit is egter ontstellend hoe sommige inwoners, verál sommige taverne-eienaars, nie by die reëls bly nie," sê Wilken Wiltshire van die Conville-GPF.
Om die naweekoperasies aan te pak, gebruik die betrokke lede van die buurtwagte en GPF meestal hul eie voertuie.
"Van ons lede het selfs besighede genader vir hulp en gemeenskapslede gekry om Nelson Mandela-boulevard teen grypdiewe te beskerm. Die buurtwagte en GPF het onderneem dat hulle nie gaan verslap in hul mandaat om woonbuurte te beveilig nie. Kriminele en dié wat kies om die reëls te breek, moet maar op hul pasoppens wees," sê Wiltshire.
Vir enige verdere inligting, of om deel te word van die patrollies, kan Fadley Fortuin by 082 413 4365, Rudy Lewis by 061 977 6098 of Ben Robertson by 079 656 6666, gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus.