Hierdie lank gekoesterde begeerte het verlede week ‘n werklikheid geword toe ek by die die munisipale bestuur toestemming gekry het vir ‘n kort rit in die eerste burger se deftige Audi A6.
Mnr Shudley Windvogel, die burgemeester se amptelike bestuurder en lyfwag, is saam met die voertuig geleen vir die spesiale geleentheid en het my by die kantoor kom oplaai en weer terugbesorg.
VOORKOMS
Die Audi is ‘n mooi ontwerpte en stewige voertuig. Hoewel dit nie soos ’n blitsvinnige rooi sportmotor harte vinniger sal laat klop nie, is dit tog ‘n weelderige motor met mooi lyne en fyn afwerking.
Dit tref ‘n mens as die soort voertuig waarmee ‘n mens nie hoef te probeer om ander mense te imponeer nie, dit is net stilweg elegant en effens konserwatief.
Die donkergrys metaalkleur is nie heeltemal swart nie, maar nogtans baie deftig.
Die bekleedsel is ‘n rustige beige en die sitplekke voor en agter is gemaklik en ruim.
DIE RIT
Ons besluit op ‘n pad wat kans sal gee vir foto’s en wat ook ‘n stukkie hoofweg sal insluit.
Met die wegtrek vertel mnr Windvogel dat hy van November 2008 ‘n jaar lank die bestuurder en lyfwag vir George se burgemeester, raadsheer Flip de Swardt was.
As ‘n offisier van gemeenskapsveiligheid, is hy ook lyfwag vir rdl De Swardt.
Hy vertel dat die Audi baie stabiel op die pad is en dat die 2.4 liter-enjin die nodige krag het wanneer hy dit nodig kry.
"Die Audi hanteer besonder goed en ek voel altyd die remstelsel is betroubaar. Die motor het vir my nog nooit onveilig gevoel nie."
Mnr Windvogel vertel ook dat hy ‘n gevorderde bestuurkursus as lid van ge-meenskapsveiligheid afgelê het, wat hom verder vir sy pligte toerus.
VEILIGHEID
"Burgemeester De Swardt het ‘n baie vol program en oral waar hy per motor moet kom, moet ek hom betyds besorg.
Dit is dus belangrik dat die voertuig betroubaar en veilig moet wees. ‘n Mens is altyd bewus daarvan dit is die eerste burger wat agter in die motor sit en ek is natuurlik ook vir mev Rina de Swardt verantwoordelik wanneer sy saamry.
"Dit is ook gerusstellend dat die voertuig se rekenaar my op hoogte hou van die temperatuur buite, die brandstofverbruik en enigiets anders wat dalk aandag nodig het. Die hele stelsel is goed ontwerp en gebruikvriendelik, alles is duidelik leesbaar," sê hy. Naas ander veiligheidsaspekte soos die gevorderde remstelsel en drie-punt veiligheidsgordels dra dit by tot ‘n gevoel van veiligheid.
BESTE EIENSKAP
Volgens mnr Windvogel is een van die beste eienskappe van die Audi die onderstel. "Dit is bring mee dat dit ‘n baie gerieflike voertuig is - of ‘n mens nou ‘n kort afstand oor ‘n hobbelrige pad moet ry of ‘n lang ent op die hoofweg."
Die voertuig is ook lekker ruim binne, ‘n belangrike vereiste vir ‘n lang burgemeester en ‘n fris lyfwag!
EEN WENS
As hy net één ding aan die Audi kon verander, sou hy graag noodligte en effens gekleurde vensters wou vra ter wille van groter beskerming vir sy passasiers.
"Hoewel ons nog nooit in ‘n ongemaklike posisie was nie, probeer ‘n mens vooruit dink en dit is die enigste verandering wat ek graag sou wou sien."
SLOTSOM
Ná die opskudding wat sommige politici se motors verlede jaar veroorsaak het, moet ‘n mens erken: George se eerste burger word stylvol vervoer, maar beslis nie in gemaksugtige weelde nie.
Die Audi A6 is ‘n 2006-model wat ‘n rapsie onder 25 000 km afgelê het waarvan sowat 7 000 km die afgelope jaar.
Vir interessantheid volg ’n kort lysie van ‘n paar burgemeesters se ampsmotors:
Bitou - R740 000 BMW X5 (nuut)
George - 2006 Audi A6
Johannesburg - R500 000 BMW (5 jaar oud)
Kaapstad - R250 000 2008 Toyota Prius
Knysna - 2003 Mercedes-Benz C180
Nelson Mandelabaai - R380 000 Audi A6 (leenvoertuig van VWSA)
Artikel: Anica Kruger. Foto's: Anica Kruger en Tanya Watson

Totsiens en dankie! Anica Krüger word veilig by die kantoor terugbesorg deur mnr Shudley Windvogel.