GEORGE NUUS - Inwoners aanliggend aan 'n openbare park in Chestnutstraat, Heatherpark, is hoogs ontevrede nadat 'n aangrensende privaat skool toestemming van die munisipaliteit verkry het om die park af te sper en as speelgrond vir leerders te gebruik.
Volgens Christo Oosthuizen, wat oorkant die pad van die park woon, het hulle die eerste keer daarvan bewus geword toe vragte grond verlede Vrydag, 4 Junie, in die park afgelaai is.
"Ons het begin navraag doen oor wat aan die gang is en later die middag is die toestemmingsbrief van Parke en Tuine aan die skool teen 'n stam van 'n boom in die park vasgekap. Dis openbare grond en 'n mens sou dink dat die inwoners wat direk geraak word, vooraf in die saak geken sou word. Ons gaan dit nie aanvaar nie," het Oosthuizen gesê.
Chris Strydom wat reg langs die park woon, sê hulle het hulle 26 jaar gelede daar gevestig oor die stil omgewing.
"Ons word direk geraak en betaal al vir soveel jare belasting dat 'n mens voel jy wil darem geraadpleeg word. Soveel kinders wat hier reg langsaan gaan speel, sal vir seker die geraas vererger. Die perseel is reg teenaan ons heining en dis vir groot dele van die dag, tussen agtuur en vyfuur."
Strydom se seun, Hector, sê paartjies hou piekniek onder die bome en mense kom stap met hul honde. "Die vleiland in die park lok wilde eende en hier is bosluisvoëls."
'Vrye toegang vir publiek'
Die skoolhoof van die betrokke skool, Little Farm School, Bonita Mellon sê hulle wil 'n heining oprig vir die kinders se veiligheid, maar die publiek sal vrye toegang deur 'n hekkie hê. Die kinders het daagliks om 10:00 vir 'n halfuur speeltyd, om 12:00 vir 'n uur en dan weer van 15:00 tot 17:00.
Volgens Mellon het die skool uitgebrei en hulle benodig meer speelplek vir die nuwe graad R'e en graad 1's.
"Die groter kinders is rowwer en hulle speel in 'n aparte spasie. Ons het reeds 'n paar duisend rand spandeer om die klouterraam in die park op te gradeer en die grond te laat aflaai, want ons het ongeveer 'n maand gelede reeds toestemming gekry. Dit maak my hartseer as mense daarteen gekant is, want ons doen baie vir die gemeenskap."
'Skool help met onderhoud, opgradering'
Die munisipaliteit se beplanningsafdeling het aan Hector bevestig dat 'n openbare oop ruimte nie afgesper of verhuur kan word aan 'n privaat entiteit sonder om dit te sluit en sonder 'n raadsbesluit nie, maar volgens die hoof van gemeenskapsdienste, Allen Paulse, is die bedoeling van die skool om te help met die onderhoud en opgradering van die park.
"Dis in goedertrou gedoen." Hy het gesê die publiek sal vrye toegang hê en hul ontspanningsaktiwiteite daar kan geniet. Die heining sal verhoed dat voertuie op die gras parkeer.
"Wat betref die geraas - die skool is reeds naby geleë en geen bykomende geraas sal veroorsaak word deur leerders wat die park gebruik nie. Hulle gebruik reeds die park. As die skool die park as 'n venue wil gebruik om 'n geleentheid aan te bied, sal hulle soos enige ander organisasies vooraf vir goedkeuring moet aansoek doen."
Paulse het gesê die grond gaan gebruik word om die oppervlak gelyk te maak en water te verhoed om op te dam en modderige areas te veroorsaak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'