GEORGE NUUS - Die toestand van die area rondom die brug in Nelson Mandela-boulevard (ou Albertstaat) en twee huise in George-Suid wat na bewering deur haweloses en dwelmslawe oorgeneem is, is 'n kwelpunt vir die gebied se "waghonde".
Volgens Aubrey Aspeling en Jan Stander, beide lede van George-Suid se gemeenskapspolisiëringsforum, benodig hierdie kwessies dringend aandag.
Die bouvallige huise by Cradockstraat 17 en op die hoek van Insignisstraat en Bamboolaan behoort beide aan privaat eienaars. Volgens Steven Erasmus, die direkteur van beskermingsdienste, is die beplanningsafdeling reeds gevra om teenoor die eienaar van die huis op die hoek van Insignisstraat en Bamboolaan op te tree, omdat die eiendom bouvallig is.
"Die eienaar van die eiendom by Cradockstraat 17 moet nog opspoor word. Wyksraadslid Sean Snyman is deel van die ondersoekspan om die kwessies rondom die eiendomme uit te klaar," het Erasmus gesê.
"Die teen-grondbesettingsafdeling besoek die genoemde areas twee keer per dag, sewe dae per week, as deel van die afdeling se brandpuntareas. Tydens die monitering van die gebied het die beamptes nog op geen hawelose persone afgekom nie. Die beamptes het tot op hede slegs op vullis afgekom wat vermoedelik deur persone daar gestort word, wat swart sakke deursoek."
Tekens dat die perseel op die hoek van Insignisstraat en Bamboolaan deur haweloses toegeëien is.
Erasmus het gesê die gebied by die brug in Nelson Mandela-rylaan word gesien as 'n brandpunt vir rommelstrooiing.
"Die reinigingsafdeling het reeds gereël dat daar skoongemaak word en sal voortaan op 'n gereelde basis daar skoonmaak," het Erasmus gesê. Hy het bygevoeg dat dwelmverwante klagtes na die polisie verwys moet word.
Twee tuisgemaakte wapens wat in die bouval op die hoek van Insignisstraat en Bamboolaan weggesteek is.
Spuitnaalde wat in Hoog- en Hoopstraat opgetel is, sowel as in 'n parkie in George-Suid. Volgens Aspeling het van die naalde aan 'n heroïenverslaafde behoort en is dit reeds aan die polisie oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'