Dié koor, wat verlede week op die voorblad gepryk het, is deesdae die nommer een kinderkoor in die land nadat hulle die gesogte Cantu Maluti-trofee opgeraap het. Hul optrede voor die raad was ‘n spesiale dankie sê aan George Munisipaliteit wat hul nuwe uitrustings geborg het.
Pastoor Ansie Liebenberg het die vergadering geopen met ‘n kleurvolle boodskap van eenheid en verdraagsaamheid. Ter illustrasie het sy vir elke raadslid ‘n kleurkaart gegee wat hulle op haar teken moes wys om saam ‘n reënboog van kleur te vorm.
Met die aanvang van die vergadering het raadslid Flip de Swardt die volgende voorstel gemaak: "Kan ons nie so reël dat as ons iets ondersteun, dan wys ons ‘n bloue en as ons iets opponeer dan wys ons ‘n rooie nie?" Met die eerste stemmery het raadslid Petrus Grobler terstond sy geel kaart gewapper.
"Meneer die Speaker, ek kan myself nie hoor nie - soms sukkel ek om te dink." So protesteer waarnemende munisipale bestuurder Gerhard Ras toe die raadsaal effe woelig raak.
Een van die sake op die agenda was die ongelooflike bedrag van R800 000 in uitstaande verkeersboetes van die gemeenskap. Raadslid Charlie Williams het dadelik sy hand opgesteek en beken dat hy nog nie vir ‘n oortreding betaal het wat hy reeds in Januarie begaan het nie.
"Net op ‘n punt van orde, ek is ‘n outokraat!" Raadslid Daniël Maritz skeer die gek met vorige beriggewing in ‘n plaaslike dagblad waar Gerhard Ras se bestuurstyl as outokraties bestempel is.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Raadslid Roland Londt (voor) lyk huiwerig om sy geel kaart rond te vertoon.