Update
GEORGE NUUS - Die drie broers van Parkdene, wat van die moord van Ruduwaan Damons (25) aangekla word, het op Maandag 13 en Dinsdag 14 Maart weer in die George-landdroshof verskyn om twee van hulle se borgtogaansoeke te voltooi.
Perswill Dickens (27), Sylvester (38) en Jason Pretorius (35), wat vroeg in Januarie in verband met Damons se moord vasgetrek is, is in aanhouding sedert hulle inhegtenisname.
Slegs die twee Pretoriusse het borgtogaansoeke gebring. Die staat het borgtog teengestaan.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is die polisie omstreeks 13:15 na die toneel in Golfstraat, Parkdene, uitgeroep.
Met die polisie se aankoms op die toneel is die oorledene met 'n steekwond aan sy bors gevind. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Die drie verdagtes is later die dag in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Die verdagtes word almal aangekla van moord met voorbedagte rade na al drie glo by die moord betrokke was en dit beplan het.
Sylvester Pretorius se verklaring is deur sy regsverteenwoordiger, Winston Jansen van Jansen & Samson Attorneys, op rekord ingelees. Daarna het hy self agter die getuiebank ingeskuif. Sy broer het verkies dat slegs sy verklaring op rekord ingelees word en het nie self getuig nie.
Die saak is uitgestel tot 24 Maart vir slotbetoë.
Advokaat MP Heyns is vir die staat en die saak dien voor landdros Thiloshnie Govender.
Gemeenskap tree op
Ná die broers in hegtenis geneem is, het lede uit die gemeenskap opstandig geword en een van Dickens se huise afgebrand.
Volgens inligting het meer as 500 mense aan die aksie deelgeneem.
Dickens se huis is met petrolbomme bestook en die Openbare Orde Polisie (Pops) moes intree.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'