Update
GEORGE NUUS - Brendon Remigio (23), wat Saterdag-middag by Heroldsbaai verdrink het, sou Maandag 14 Junie met 'n nuwe werk in George begin het.
Hy is oorspronklik van Zimbabwe en het eers einde verlede maand van Johannesburg na George gekom waar 'n nuwe hoofstuk in sy lewe op hom gewag het.
Hy het Saterdagmiddag saam met vriende gaan swem en het in 'n sterk seestroom beland. Nooddienste, waaronder die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), ER24, die Wes-Kaapse gesondheidsdienste, George-brandweer en reddingsdienste en die polisie is kort voor 15:00 ontbied.
'n NSRI-vrywilliger in Heroldsbaai en 'n omstander het intussen op branderplanke na hom geroei. Hy is 'n rukkie later op die NSRI se reddingsboot oorgelaai en na die strand gebring.
Daar is sowat 30 minute onverpoos gepoog om hom by te bring, maar hy is later op die toneel dood verklaar.
Vrae is daarna op Facebook gevra waarom daar geen lewensredders op die strand aan diens was nie.
Brendon Remigio (23)
Remigio se suster, Sasha het Dinsdag in George aangekom sodat reëlings getref kan word om sy liggaam na Zimbabwe te neem waar hy later begrawe sal word.
'n Hartseer Sasha het aan George Herald gesê almal het gehou van haar broer. Hy was vriendelik en het 'n uitgaande persoonlikheid gehad. "Hy was altyd gereed om mense te help."
Volgens haar is dit 'n groot tragedie vir die familie. Sy is Saterdagmiddag ingelig dat haar broer verdrink het.
Haar broer kon swem en dit was sy eerste besoek aan Heroldsbaai.
Remigio word oorleef deur sy ma, Christina, en twee ouers susters. Sy pa is 'n paar jaar gelede oorlede.
Neels Barnard, hoof van brandweer en reddingsdienste by die George-munisipaliteit, het by navraag gesê die munisipaliteit stel lewensredders gedurende die vakansiehoogseisoen aan, wat gewoonlik vanaf November/Desember tot die Paasnaweek duur.
"Befondsing is ongelukkig nie beskikbaar om vir lewensredders buite seisoen, wanneer relatiewe koue weer en koue seetemperature tot daling van getalle op strande meebring, te betaal nie."
Noodnommers is op borde aangebring by die mees gewilde strande in die munisipale gebied: Gwaiing, Victoriabaai, Heroldsbaai en Wilderness se hoofstrand.
Brendon Remigio (23)
Brendon Remigio (23) who drowned on Saturday afternoon at Herold’s Bay, would have started in a new job in George on Monday 14 June. Remigio is originally from Zimbabwe and he only moved from Johannesburg to George at the end of May. He was caught in strong rip currents while swimming. He will be buried in Zimbabwe.
Vorige artikel: Verdrinking by Heroldsbaai
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'