GEORGE NUUS - 'n Jong man het vroeër vanmiddag by Heroldsbaai naby George verdrink toe hy en 'n groep vriende gaan swem het. Blykbaar het die voorval kort voor 15:00 plaasgevind.
Volgens inligting wat deur die George Herald ontvang is, het die oorledene in die water in die moeilikheid beland waarna hy onder die water verdwyn het.
Lede van nooddienste, waaronder die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en ER24, het hulle na die toneel gehaas.
Daar is sowat 30 minute onverpoos gepoog om die man by sy bewussyn te bring. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die naam van die oorledene is nog nie bekend nie.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoeder, het navraag gesê ‘n verklaring sal later, nadat die noodoptrede afgehandel is, oor die voorval uitgereik word.
Die oorledene is op die toneel dood verklaar.
* Beeldmateriaal wat oorspronklik deel was van hierdie artikel is verwyder weens die sensitiewe aard daarvan. George Herald het verskeie video's en foto's van ooggetuies op die toneel ontvang, en met die laai van die storie is een van die video's aanlyn geplaas. Hierdie video is intussen verwyder. Ons vra omverskoning.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'