GEORGE NUUS - Ons is so hot ons vat sommer vlam." Só het Leon van der Hoven, mede-eienaar van Key & Lock in Markstraat, gesê ná 'n gedeelte van dié gebou Maandagoggend gebrand het.
Jannie Halgryn, die algemene bestuurder van Localwise Security, was omstreeks 06:24 op pad huis toe na hy werknemers afgelaai het, toe hy rook uit die Key & Lock-gebou sien trek.
"Ek het eers probeer kyk presies waar dit brand, maar die rook was te dig. Ek het toe dadelik vir Leon gebel en daarna die brandweer. Gelukkig het ek dit vroegtydig opgemerk," vertel hy.
Volgens Van der Hoven is die brand na bewering deur 'n kortsluiting veroorsaak. Slegs 'n gedeelte van die plafon en dakbalke in een van die agterste vertrekke in die gebou is beskadig.
"Die brandweer is gelukkig net om die draai, so hulle was baie vinnig hier," sê hy. Hoewel daar teen Maandagmiddag nog 'n effense roetreuk in die lug gehang het, is die skade minimaal en kon besigheid normaal voortgaan.
'n Gedeelte van Key & Lock se plafon wat Maandagoggend gebrand het. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'