Die vereniging het sy 80ste verjaardag slegs twee weke gelede hier gevier.
Volgens die voorsitter, Phillip Terblanche is hy om ongeveer 2-uur Dinsdagnag in kennis gestel dat die saal in vlamme staan. Die brandweer is ontbied en was gou op die toneel, maar erge skade was toe reeds aangerig.
Die oorsaak van die brand was teen gisteroggend nog nie bekend nie, maar die versekeringsassessor sou die perseel gister besoek. Terblanche het gesê hulle vermoed dit was ‘n elektriese fout. "Geen ander funksie is daar aangebied sedert ons funksie twee weke gelede nie."
Een van die grootste verliese in die brand is die duursame geel- en swarthoutblokkiesvloer. Die volledig toegeruste kombuis het ook in die slag gebly en al die stoele en tafels is verskroei en opgefrommel deur die hitte.
Dit is vir die vereniging ’n groot slag. Hulle het self die saal in 1968 gebou nadat die grond deur Jan Terblanche geskenk is. "Ons het net die oordragkoste betaal," het Terblanche gesê.
Met die inwyding in 1969 is dit na John Steyn vernoem wat op daardie stadium die voorsitter was.
Tydens sy gesprek met die George Herald het Terblanche nog nie die perseel besoek om die skade in die daglig gade te slaan nie, maar hy het gesê hy is ingelig dat die gebou van 285m² heeltemal herbou sal moet word.
Die puin van die hoofsaal in die John Steyn-gebou.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS