GEORGE NUUS - Dit is weer vakansietyd en braaivleis en potjiekos is op almal se lippe.
Die vraag is net waar gaan jy en jou vriende 'n vuurtjie aansteek?
Vakansiegangers kan kies tussen 'n paar plekke in George en die omgewing.
Kamp by Wilderness Nasionale Park. Dagbesoekers kan teen 'n dagfooi van R37 (volwassenes) en R18 (kinders ouderdom 2 tot 11) die park geniet en by die aangewese braaiplekke ietsie op die kole gooi. Die park is oop vir dagbesoekers van 07:00 tot 18:00. Island Lake-vakansieoord net om die draai, bied dieselfde gerief vir dagbesoekers.
Heroldsbaai en Victoriabaai is beide nabygeleë strande waar besoekers mag braai, by die aangewese braaigeriewe.
Die braaiplek by Heroldsbaai is langs die getypoel en by Victoriabaai is braaiplekke op die grasperk voor die strandarea geleë.
By Leentjiesklip in Wilderness, langs die parkeerarea, is enkele braaigeriewe beskikbaar, asook by Gwaiingriviermond in Hansmoeskraal.
Munisipale woordvoerder Chantel Edwards-Klose, het bevestig dat die publiek slegs by die aangewese braaiareas mag braai."Geen braaiaktiwiteite word op die gras, in die parkeerareas of op die strand toegelaat nie," het sy gesê. George-munisipaliteit het kennisgewingborde by al die strande wat aandui watter aktiwiteite toegelaat word.
Braaiery by strande word dwarsdeur die jaar slegs tussen 06:00 en 18:00 toegelaat.
Waar jy ook al besluit om te braai, geniet dit in die gees van samehorigheid.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'