GEORGE NUUS - Die beskadigde braaigeriewe by Leentjiesklip, Wilderness en ander strande in die gebied, gaan reggemaak en opgeknap word. Dit sal gereed wees vir die Desemberseisoen.
Dit is die boodskap van die George-munisipaliteit na aanleiding van vrae van 'n leser, Johan Blumenthal, oor die braaigeriewe by Leentjiesklip.
Wat onlangs veronderstel was om vir hom en sy familie 'n aangename uitstappie te wees, was toe nie so aangenaam toe hy die braaigeriewe sien wat hulle moes gebruik nie. Hy het dit as "ontstellend" beskryf.
Blumenthal, 'n sakeman van George het George Herald gekontak en foto's ter motivering gestuur.
Volgens Blumental wil hy nie net kla nie hy bring dit net onder die aandag van mense ter wille van veiligheid en die trots van die gewilde strandgebied. Volgens hom is Leentjiesklip 'n baken en plek met 'n ryk geskiedenis. Wat hom betref is dit die "hoofstrand" van Wilderness.
Hy het gesê die braaigeriewe is onder meer skeef en vlak gebou. "Eintlik kan 'n mens nie daarop braai nie." Die vuur is nie beskerm nie. Wat gaan gebeur as daar 'n wind opkom? Baie mense gooi nie die vuur of kole dood wanneer hulle klaar gebraai het nie.
Daar moet in gedagte gehou word dat daar voertuie in die parkeerarea staan. Daar is ook mense en kinders wat in die ontspanningsarea loop. Soos dit nou daar is, kan dit gevaarlik wees.
"Die munisipaliteit behoort 'n kundige te kry wat die braaiplekke kan bou," het hy gesê. Daar behoort 'n beskermde muurtjie vir die vuur gebou te word en ook 'n plek by die braaigeriewe waar toerusting geplaas kan word.
Munisipaliteit antwoord
Walter Hendricks, munisipale direkteur gemeenskapsdienste, het gesê die braaiplekke word voor elke somervakansieseisoen reggemaak of oorgebou, maar doen ongelukkig deur die jaar skade op. Dit is meestal omdat mense op die braaistrukture hout kap, waarvoor dit nie gebou is nie.
Die munisipaliteit sal binnekort begin om braaiplekke en ander geriewe by strande op te knap, wat sal reg wees voor Desemberseisoen.
Hy het daarop gewys dat Leentjiesklip tans nie deel vorm van die strandgebied wat voorheen blouvlagstatus gehad het nie. Dit was slegs die gedeelte wat as Wildernisstrand bekendstaan, voor die NSRI.
IN SHORT: Braai-facilities at beaches such as Leentjiesklip will soon be refurbished and recoverd. That is the message of the George municipality after a reader asked questions regarding the braai-facilities at Leentjiesklip. According to the reader the current braai-facilities is not correctly build. It poses a security risk. What happens if the wind blows, he wants to know. There is a vehicle parking area and also a area where people and children walk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'