Update
GEORGE NUUS - Haar dag het soos enige ander dag begin, maar hoe dit sou uitdraai het haar lewe in 'n oogwink verander.
"Ek het pas teruggekeer na 'n langnaweek, so ek was lekker uitgerus. Ek het opgestaan en reggemaak vir werk en is saam met my pa by die deur uit. Hy vat my elke oggend busstop toe," vertel Louwina Meiring (26) van Pacaltsdorp.
Meiring is een van talle passasiers wat daardie noodlottige oggend, Woensdag 1 Maart, op die Go George-bus op pad werk toe was.
Kort ná Meiring en nog ander in New Dawnpark, Pacaltsdorp, op die bus geklim het, is 'n petrolbom deur die ruit gegooi waar Meiring gesit het en haar lewe het binne sekondes verander.
"Ek was besig op my selfoon toe ek net vlamme sien. My foon het geval en ek het my gesig vasgegryp. Ek kon dit nie glo nie, dit het gevoel of ek droom. Ek het gedink dis net ek wat aan die brand is. Ek het omgedraai en om hulp geroep. Die mense agter my het ook opgespring en toe ek na die agterkant van die bus hardloop sien ek dis nie nét ek wat aan die brand is nie. Alles het so vinnig gebeur en ek het besef ek is die een met die meeste vlamme aan my," vertel Meiring.
'n Stem van bo
Meiring is oortuig dat dit haar geloof is wat haar en haar familie deur dié traumatiese ervaring gedra het.
"Ek het die stem van die Here gehoor wat vir my gesê het as ek buite kom moet ek in die sand rol. Die bus se deur wou eers nie oopgaan nie, maar toe hy oop is het ek dadelik uitgeklim en gesig en al in die sand gerol," sê sy.
Toe Meiring tot verhaal kom het sy die erns van haar wonde besef en omstanders gevra om haar baadjie en broek uit te trek. "Ek kon nie self nie. My hande se velle was af. 'n Jongman het my kom help. Ek kon voel hoe die materiaal teen my bene vassit. 'n Ander aunty het vir my water gegee."
Hulp
Met die hulp van die jongman kon Meiring daarin slaag om haar ouers te skakel. Hulle, saam met die nooddienste, was vinnig op die toneel.
"My familie het opgedaag en die paramedici was ook vinnig daar. Metro-ambulansdienste het my gehelp en dadelik hospitaal toe geneem. Die personeel by George-hospitaal het nét so vinnig en goed met my gewerk," sê Meiring.
Meiring is vir drie dae in die George-hospitaal opgeneem voor sy na die intensiewesorgeenheid van Tygerberg-hospitaal se brandsorgeenheid oorgeplaas is. Sy was vir 17 dae in die intensiewesorgeenheid voor sy oorgeplaas is na 'n algemene saal.
"Ek was vir 39 dae in Tygerberg en is toe na George teruggeplaas. Ek is so dankbaar vir albei hospitale. Ek moes weer leer loop en leer om my hande te gebruik. Ek het tweedegraadse brandwonde aan my gesig en hande, en derdegraadse wonde aan my regterbeen opgedoen.
"Die chirurge in Tygerberg was fantasties - vandag kan ek self loop en my hande gebruik. Ek het nog wonde, maar met goeie ondersteuning kom ek daardeur. Van die begin tot nou kan ek die Here sien. Hy was, en is steeds, daar vir my," het 'n emosionele Meiring aan George Herald vertel.
Meiring voor die voorval.
Dankie
"Buiten die fantastiese mediese sorg wat ek ontvang het, wil ek ook net dankie sê aan almal wat finansieel bygedra het sodat my gesin vir my in Tygerberg kon gaan kuier. As ek na my liggaam kyk sien ek hoe seer ek gekry het.
"Die chirurge moes vel wat nie gebrand het nie gebruik om veloorplantings op my bene en hande te doen. Maar, ek is so dankbaar dat ek leef en nog 'n ma kan wees vir my seuntjie."
Vorige artikels:
- Bombing victim recovering well
- Bomb victim flown to Cape Town
- Minister visits George after bomb attack
- Reward offered for info on bus bombers
- Mayor visits bus bomb victims in Hospital
- Bus bombed, 11 injured
- Update: Bomb attack on a Go George bus
- Fourteen patients to hospital
- Commuters injured by bomb attack on a Go George bus
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’