Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Nasionale Biblioteekweek se program is ook ietwat gekortwiek deur verskeie items wat as voorsorgmaatreël teen die verspreiding van die koronavirus gekanselleer is.
Nietemin het getroue ondersteuners verlede naweek, tydens die opening van hierdie belangrike week op die biblioteekkalender, seker gemaak hulle het genoeg leesstof vir ontspanning tuis.
'n Nege maande oue tweeling, Leonard en Lu-Fred Rheeder, was die eerste en jongste besoekers aan George-biblioteek verlede Saterdag. Die tweelingboeties kan wel nog nie lees nie, maar hul ma, Madeleine Rheeder, glo 'n kind is nooit "te klein" om aan boeke bekendgestel te word nie.
"Hulle wys verskillende emosies wanneer ek en my man vir hulle lees," het sy gesê. "Natuurlik verstaan hulle. En hulle geniet die prentjies."
Vir die duur van Nasionale Biblioteekweek (16 tot 22 Maart) kan besoekers enige biblioteekboek teruggee sonder enige boete. "Asseblief bring net ons boeke terug," het Gerty Potts, senior biblioteek-assistent, gevra. Daar gaan die hele week gelukstrekkings plaasvind.
Mense staan 'n kans om hul boeke langer te hou, 'n ekstra boek uit te neem, of 'n gratis les by Little Readers, 'n plaaslike besigheid wat spesialiseer in vroeë leesvaardigheid, te wen. Almal wat die biblioteek besoek kry ook 'n gratis boeksak en 'n boekmerk.
Kyk 'n video hieronder:
- Die bekendstelling van die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (Liasa) se Suid-Kaap-tak wat vanoggend, Donderdag 19 Maart, in die George-streekbiblioteek sou plaasvind, is uitgestel tot later vanjaar.
- Op provinsiale vlak is die Nal'ibali Clowns Without Borders-toer, wat vir die duur van Nasionale Biblioteekweek verskeie biblioteke in die Wes-Kaap sou besoek ook gekanselleer.
Vorige artikel: Kom geniet die pret by die Georgebiblioteek
Gerty Potts (senior biblioteekassistent), Rensia Coetzee (Little Readers), Madeleine Rheeder met klein Leonard, Garelene Muller (kinderbibliotekaresse) en Petro Ruiters met tweelingboetie Lu-Fred. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'