Update Video
GEORGE NUUS - Drie mans is in Pacaltsdorp vermoor en nog twee is ernstig gewond. In Thembalethu is drie mans in afsonderlike voorvalle op Sondag 3 Desember vermoor.
Maandagmiddag is die Thembalethu-polisie na nóg 'n moordtoneel uitgeroep ná 'n meisie (14) 'n tienerseun (15) doodgesteek het.
Die oorledenes en die beseerdes in die voorvalle in Pacaltsdorp het ernstige hoofbeserings en steekwonde opgedoen en is met gapende wonde op die onderskeie tonele aangetref.
Die polisie het teen Saterdagoggend reeds nege verdagtes aangekeer. Ekstra polisiebeamptes is oor die naweek na dié woonbuurt ontplooi om die situasie te neutraliseer.
Bendegeweld
Die Pacaltsdorp-polisie het hulle hande vol gehad sedert die eerste moord Vrydagmiddag, 1 Desember. Graham Fielies (37) van New Dawn Park is na bewering die middag omstreeks 14:00 deur 'n groep mans in 'n lokval gelei waarna hy aangerand is. Fielies, wat wonde aan sy kop gehad het, is later die aand in die hospitaal oorlede.
Ses mans, Johannes Boesak (34), Hayworth Botha (33), Daniel Bruiners (43), Nertle Damons (32), Ryno Joubert (35), Remano Matolla (32), is in verband met die moord op Fielies aangekeer.
Hulle het Maandagoggend in die George-landdroshof verskyn. Die saak is tot 18 Desember vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel. Hulle bly almal in aanhouding. 'n Sewende verdagte is Dinsdag aangekeer en sal na verwagting vandag in die hof verskyn.
Die George Herald verneem die aanval op Fielies is vermoedelik bendeverwant. Die moord is glo voorafgegaan deur 'n voorval Donderdagaand waartydens een van die verdagtes se vinger met 'n panga afgekap is. Daar is ook sprake dat Fielies en sy aanvallers oor gebiedsreg gestry het.
Die polisie wou nie veel inligting bekend maak nie, maar het bevestig dat hulle die moontlikheid van bende-aktiwiteit ondersoek.
Fielies word Saterdag om 09:30 uit die St Albans Anglikaanse Kerk, Pacaltsdorp begrawe.
Twee dood in Rosedale
Later die aand in Rosedale, kort voor middernag, is Johnwin Pato (18) van Lotstraat, naby sy huis doodgesteek. Pato, 'n talentvolle kunstenaar, is met 'n skerp voorwerp gesteek en het 'n groot wond links van sy gesig tot by sy nek gehad.
Volgens sy ouers, Angeline en John Pato, is hy aangeval en beroof op pad huis toe van die taverne waar hy potspel gespeel het. "Hy was 'n saggeaarde en rustige mens. Hy het nie eers 'n wapen gedra nie," het sy pa gesê.
Johnwin se ouer broer, Brenton (27), is Sondagaand na die Groote Schuur-hospitaal gevlieg met 'n ernstige breinbesering nadat hy glo in 'n beweerde wraakaanval met 'n panga raakgekap is.
Voorlopige inligting dui daarop dat hy en nog mans, Johnwin se vermeende moordenaars vroeg Saterdagoggend met pikstele en pangas aangeval het. Om 06:30 is 'n bewustelose Angelo Draai (24) met kopbeserings naby Genesisstraat aangetref. Hy is steeds in die hospitaal.
Kort daarna, omstreeks 07:30, is die liggaam van Gurswin Verlaat (22) in Genesisstraat gevind met wonde aan sy kop. Drie verdagtes, Charldon Heynes (20), Kesharne Mostert (21) en Marlen Willeman (19), het Maandag in die hof verskyn in verband met die moorde en ernstige aanrandings in Rosedale. Dié saak is tot 13 Desember uitgestel. Johnwin se broer, Brenton, is ook 'n verdagte in dié saak.
Een van die verdagtes wat aangekeer is vir Johnwin se moord, Rowandro Ruiters (27) verskyn weer op 11 Desember in die hof. Johnwin word Saterdag om 10:00 uit Eagle's Nest Ministries, Pacaltsdorp begrawe. Al die verdagtes bly in aanhouding. Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê hulle het goeie leidrade wat hulle opvolg met getuies.
"Ons versoek egter steeds dat persone met inligting oor enige van die voorvalle kapt. H. Ben by 044 803 9134 skakel."
Generaal-majoor Oswald Reddy, die George-gebiedsbevelvoerder, het die moorde sterk veroordeel en in 'n onderhoud met George Herald gesê dit was 'n verskriklike naweek vir die Eden-gebiedsgroep.
"Ons wil seker maak die area is stabiel en onder beheer voor ons onttrek. Ons het visuele polisiëring en operasies verskerp om seker te maak al die verdagtes word in hegtenis geneem. Indien enigiemand meer inligting rondom enige van die voorvalle het, kan hulle ons gerus kontak. Enige inligting sal vertroulik hanteer word."
In dieselfde asem het hy die betrokke polisiebeamptes bedank en geprys vir hul harde werk om die verdagtes aan die pen te laat ry.
Kyk videos hieronder.
Graham Fielies
Die talentvolle Johnwin Pato het sy hele lewe voor hom gehad.
Genl.maj. Oswald Reddy. Foto: Zolani Sinxo
Lees verwante artikels:
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERANLIS
VIDEOS: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'