Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Elf verkeersopsigters van George vertrek vandeesweek na Port Elizabeth om hulle te bekwaam as verkeersbeamptes.
Na die jaarkursus sal hulle as ten volle gekwalifiseerde verkeersbeamptes by George-verkeer aansluit.
Dié elf stuks, ses vroue en vyf mans, was merkbaar opgewonde oor die vooruitsig tydens 'n geleentheid verlede Vrydag waar hulle deur die burgemeester, Melvin Naik, verkeershoof Donavan Saptoe, hoof van wetstoepassing Richard von Willigh en die direkteur van beskermingsdienste Steven Erasmus, sterkte toegewens is.
Die groep van elf is Nadine Langisa, Algeron Matabata, Lusanda Mnyungula, Wincheskof Fortuin, Leandre Laws, Simone van der Heever, Gaynor Rixana, Almar Kafoen, Shubeida Masouw, Luchanol Witbooi en Duwaine Joseph.
Hulle volg kort op die hakke van ses ander verkeersopsigters wat tans in die helfte van hul opleiding by 'n verkeerskollege in Kaapstad is.
Nadat die groter, tweede groep hul opleiding by die Nelson Mandela Metro-verkeerskollege in Port Elizabeth aan die einde van die jaar voltooi het, sal George-verkeer altesaam 17 nuwe verkeersbeamptes ryker wees.
Volgens Saptoe sal hierdie 'n verligting aan die departement bied, wat reeds hul hande vol het met die uitdagings wat 'n groeiende dorp soos George bied.
Kyk 2 video's hieronder:
Een van die verkeersopsigters wat vanjaar in PE gaan studeer, Gaynor Rixana, is die eerste verkeersopsigter van Touwsranten wat vir die kursus gekies is.
"Dit is 'n baie groot ding wat met my gebeur het," het sy gesê.
Sy gaan baie na haar dogtertjie en haar man verlang, maar sy reken dit gaan alles die moeite werd wees. Studente sal een keer per maand kan huis toe gaan.
George-verkeershoof Donovan Saptoe (middel) wens Gaynor Rixana (links) en Leandre Law sterkte toe met hul studies om te kwalifiseer as verkeersbeamptes. Foto's: Michelle Pienaar
Leandré Laws, nog 'n verkeersopsigter wat deel vorm van die groep, het gesê sy het hierdie stap geneem ter wille van haar pa wat verlede jaar gesterf het en om die gemeenskap in Blanco te help.
"Ek het my pa verlede jaar skielik verloor en dit het my gemotiveer. My pa sou dit gelove het, dit sou hom so trots maak," het sy gesê.
"Dit, en die feit dat ek iets vir die gemeenskap wil doen. Dit is nie net vir my nie, dit is vir my gemeenskap in Blanco.
"Mense kan ons sien as steenkool - as iemand net daai tyd vir jou wil gee en jou nurture, kan jy ook 'n diamant word."
Lees 'n verwante artikel: Blink toekoms wink vir opsigters in blou
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'