GEORGE NUUS - Die bewerings oor 'n Chinese man wat Covid-19 onder lede het en in 'n Rosemoor-huiswinkel weggesteek word, is "heeltemal ongegrond en vals". Dit is volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder.
Pojie het by navraag gesê ondersoek is ingestel en daar is bepaal dat die gerug onwaar is.
"Ons wil die publiek vermaan en terselfdertyd waarsku om nie onbevestigde gerugte te versprei van mense wat moontlik geïnfekteer kan wees nie. Daar is spesifieke protokol wat gehandhaaf moet word ten opsigte van die rapportering en voorkoming van die verspreiding van die koronavirus."
Hy het gesê in 'n geval soos die Rosemoor-insident, "wat heeltemal ongegrond en vals was", word onnodige hulpmiddels en hulpbronne ontplooi om die klagte te ondersoek terwyl dit aangewend kon word vir gevalle met meer meriete.
Seniors wil vir Covid-19 getoets word
Die inwoners van die Rosemoor-dienssentrum vir seniors het gevra om vir die nuwe koronavirus getoets te word nadat van hulle die winkel besoek het. Dit is volgens ds. Henry McCombie, voorsitter van die dienssentrum se bestuurskomitee.
Daar is beweer dat die Chinese man onlangs uit China aangeland het en dat hy siek is. Die inligting het op sosiale media versprei en 'n omroeper van EDENfm-radiostasie het dit uitgesaai. Die stasie het egter kort daarna in die openbaar verskoning gevra omdat onbevestigde inligting uitgesaai is.
Mense was daarna steeds onseker oor of die geval ondersoek is voordat dit summier as 'n blote gerug afgemaak is.
McCombie het gesê hy het die Garden Route-distriksmunisipaliteit se gesondheidsdepartement Dinsdag besoek om hierdie kwessie te bespreek. Hy het ook die hulp van die departement ingeroep om inwoners in te lig oor hoe hulle teen Covid-19-infeksie beskerm kan word.
Die sentrum het 'n beperking op besoekers geplaas wat die perseel mag binnegaan en dit sluit familie van inwoners, persone wat siek is asook ander kwesbare persone in. "Dit is in lyn met maatskaplike dienste se bepalings."
'Polisie het ondersteuningsrol'
Pojie het gesê die polisie se rol ten opsigte van Covid-19 is 'n ondersteuningsrol. "Op hierdie stadium hou ons onsself by die voorskrifte en bepalings soos deur die President voorgeskryf.
"Ons werk nou saam met die departement van gesondheid en ander departemente om die pandemie die hoof te bied. Intern het ons ook maatreëls in plek gestel om ons lede te beskerm binne die werksomgewing."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'