GEORGE NUUS - Opwinding oor die nuwe jaar is op die vyfde dag van die jaar gedemp toe beurtkrag sommer twee keer ingestel is.
Die onverwagse beurtkrag op Sondag 5 Januarie het talle inwoners en ook vakansiegangers onkant betrap en mense hou asem op, want daar is nie duidelikheid oor die pad vorentoe nie.
Talle mense kyk opnuut na alternatiewe energiebronne. Dit is bevestig deur Johannes van der Walt van Powerhour. Powerhour is deel van Beckers Electrical SA.
Van der Walt sê mense is paniekerig. Daar is beslis meer navrae na alternatiewe energiebronne. "Mense besef die skrif is aan die muur."
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, sê die instansie het reeds in Desember met Eskom en die George-munisipaliteit oor die kragsituasie vergader. Eskom is tydens 'n vergadering genooi om 'n senior verteenwoordiger na George te stuur om koppe bymekaar te sit en 'n oplossing te vind.
Volgens hom het George-munisipaliteit ook aangedui dat die intansie bereid is om saam te werk.
"Dit help nie dat ons mekaar beveg nie," sê Farrell. "Ons wil saam met die provinsiale regering en die plaaslike owerheid kyk na 'n oplossing."
Hy hoop dat die vergadering met Eskom voor die einde van Februarie sal plaasvind.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het gesê die instansie het al kontak met die Wes-Kaapse provinsiale regering oor die aangeleentheid gehad toe Helen Zille nog premier was.
Volgens hom is die groot dillema dat privaat-entiteite nie toegelaat word om krag terug te ploeg in die provinsiale en nasionale netwerk nie. "Daarvoor het jy 'n lisensie nodig."
Hy het benadruk klein sakeondernernemings word hard geslaan. "Dit is nie vir hulle haalbaar om alternatiewe kragbronne soos kragopwekkers aan te skaf nie. Eskom moet oop kaarte speel. Sakeondernemings moet betyds in kennis gestel word oor beurtkrag."
Volgens Cilliers is die oplossing om lisensies toe te ken aan onafhanklike kragvoorsieners wat krag aan die netwerk kan lewer.
"Dit sal Eskom die geleentheid gee om sy huis in orde te kry en te kyk of hy volhoubaar bestuur kan word."
Cilliers sal wil sien dat gekyk word na groen energie soos wind- en sonkrag, want as die huidige situasie nie verander nie, kan dit klein ondernemings op hulle knieë dwing.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'