Met ‘n verskeidenheid lieflike programme in plek dien Bethesda die gemeenskap op vele terreine. Een daarvan is die dagsorgprogram vir kinders waar individuele versorging en ontwikkelingsprogramme toesien dat hierdie kinders optimaal ontwikkel.
Die dagsorgsentrum is pragtig versier deur Eden-gemeente en Family Harvest Church wat met hul eie handearbeid gesorg het vir ‘n lieflike, kleurvolle area vir die kleintjies.
Die kinders word in verskillende ouderdomsgroepe verdeel en ontvang onderrig in twee tydsgleuwe, vier oggende ‘n week.
"Ons kry dikwels vrywilligers wat by ons aansluit, maar net vir ‘n maand kom uithelp. Ons visie is om vrywilligers as deel van ons span te hê vir ’n lang periode. Ons het dringend mense nodig wat toegewyd is in hul werk," sê Chireze.
Die twee vrywilligers, Sharon Symons en Berdine Mans wat reeds maande by Bethesda werksaam is, is onlangs permanent aangestel in hul posisies as versorgers en opvoeders. Hul salarisse word betaal deur die Geronimo en Timber Wolf Spurs.
Nog ’n vrywilliger wat al ‘n lang pad van 18 maande saam met Bethesda loop, is Freda Mulder.
In ‘n kort onderhoud met Freda het Chireze hierdie bekwame vrou ‘n paar vrae gevra oor haar ervaring as vrywilliger.
Hoekom doen jy vrywillige werk?
Dit is ‘n passie vir my om met hierdie kinders te werk.
Aan die einde van die dag voel ek ek het ‘n verskil gemaak.
Wat doen dit vir jou?
Dit hou my nederig. Ek kry meer uit die proses as hulle, dink ek. Dit doen iets aan ‘n mens.
Daar is moeilike en nie-lekker tye ook in vrywillige werk.
Dit is in daardie tye wat dit van my ‘n beter mens maak.
Hoekom bly jy aan as vrywilliger?
Dis lekker om te sien hoe jou hulp hierdie kinders se lewens beïnvloed. Van hulle kan nie normaal funksioneer nie, maar later (danksy die ontwikkelingsprogramme) speel hulle en doen goed soos ‘n normale kind.
Vir meer inligting oor Bethesda en hul dagsorgprogram, kontak Chireze by 044 875 8088.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
(1).jpg)
Lede van die Family Harvest Church het van die ouer kinders in Bethesda gehelp om ‘n pragtige groentetuin te begin. Hulle sal binnekort kan begin oes.