GEORGE NUUS - Mense het vanoggend vroeg opgestaan om gebruik te maak van winskopies op Swart Vrydag, maar die eerste aanduidings is dat dit nie so besig is soos verlede jaar nie.
Anders as verlede jaar was parkeerplek by winkelsentrums vanoggend redelik volop beskikbaar.
Ingeligtes het gesê die onlangse skerp stygings in Covid-19-gevalle in die Tuinroete speel beslis 'n rol. Die feit dat winkels hul spesiale aanbiedinge oor 'n paar dae versprei het, kan ook 'n rol speel. Die werklike omsetsyfers sal eers aanstaande week beskikbaar wees.
Tydens George Herald se besoek vanoggend aan sake-ondernemings was dit duidelik dat Covid-19-protokolle streng toegepas word. Niemand is toegelaat om 'n winkel binne te gaan as hy/sy nie 'n masker dra nie. Daar is ook beperkings geplaas op die getal mense wat op dieselfde tyd binne 'n winkel mag wees.
Rion Olivier, bestuurder van die Garden Route Mall, het gesê die toename in die Covid-19-gevalle in die gebied speel beslis 'n rol. "Mense isoleer hulself."
Die afgelope twee maande het omset by die sentrum mooi herstel. Omset in Oktober 2020 het vergelyking met Oktober 2019 met 8% gegroei. Die laaste week het omsetsyfers egter begin afneem. "Ons verwag nie rekord verkope vandag nie."
Hy het benadruk dat al die nodige protokolle in plek is en inspekteurs van die departement van gesondheid en die Garden Route-distriksmunisipaliteit se rampbestuur het die sentrum besoek en was tevrede.
Chris Anderson wat as higiëne-ambassadeurs by die sentrum optree het gesê hulle maak seker dat almal maskers dra, hul hande saniteer en veilig is. "Ons kry goeie samewerking van almal."
By die sentrum het Marco Samson saam met sy dogtertjie Marischa (7) gewag. Sy vrou, Maria was binne besig om inkopies te doen. "Daar is redelik winskopies en hier is beslis minder mense as verlede jaar," het hy gesê.
Dr. Awie de Villiers, eienaar van Vitalvet in die stadkern, het gesê dis die besigste dag van die jaar. Verskeie mense het gebruik gemaak van die spesiale aanbiedinge.
By Game in die Garden Route Mall is net ‘n sekere aantal mense op ‘n keer in die winkel toegelaat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'