Die huis in Yorkstraat is onlangs aan ‘n motorhandelaar verkoop en hopelik gaan die oordrag binne die volgende maand of twee deur.
Volgens die bure bly haweloses reeds vir ‘n jaar in die huis en ander ‘elemente’ gebruik dit onder meer as drink- en rookplek.
Dit dwing die huispryse in die onmiddellike omgewing af terwyl Yorkers Multisave, op die oorkantste hoek, ook sukkel met ongure karakters op sy voorstoep.
Een van die trustees van die eiendom, Rohan Smith, sê hulle het al twee sekuriteitsmaatskappye aangestel om te sorg dat rondlopers nie die huis beset nie, maar met weinig sukses. "Ek woon in Knysna en kan nie die hele tyd ‘n oog hou nie. Die munisipaliteit het ook ‘n eenheid wat tot tienuur in die aand sulke plekke patrolleer, maar herhaaldelik trek die mense maar net weer in." Smith en sy medetrustees het onlangs in opdrag van die munisipaliteit die huis laat skoonmaak. Bosse en onkruid in die tuin is ook verwyder.
Ongelukkig is dit duidelik dat mense sedertdien weer die huis beset. Die vloere is met bloedkolle en menslike ontlasting besmeer terwyl uitgebrande vure duidelik dui op ‘n brandgevaar.
Smith sê hy is in kennis gestel dat die koopprys van die huis glo klaar in ‘n trustrekening betaal is. "Die perseel het besigheidsregte en ek neem aan die handelaar - van Johannesburg - gaan sy huidige besigheid uitbrei."
Artikel: Ilse Schoonraad
.jpg)
Haweloses gebruik sommer die vloer as toilet aangesien die badkamer van alles gestroop is.