GEORGE NUUS - 'n Bekende maatskaplike werker, Riaan Nothnagel (59), wat diep spore in die gemeenskap van George en omliggende dorpe getrap het, is Sondag 26 September onverwags aan 'n hartaanval oorlede. Hy word deur sy vrou, Jureni, en drie dogters oorleef.
Christo Jordaan, 'n plaaslike prokureur en sy vriend van drie dekades, het Nothnagel as die onselfsugtigste persoon beskryf wat hy nog ooit raakgeloop het.
"Jy kon hom dag en nag skakel en hy sou beskikbaar wees. Die toewyding aan sy kliënte in privaat praktyk was verstommend."
Hy het onder meer dienste aan die George-munisipa-liteit en staatsde-partemente gelewer, en was 'n spesialis op die gebied van drank- en dwelmverslawing, aannemings, berading en bejaardesorg. As kundige is hy by verskeie geleenthede per helikopter na die boorplatform buite Mosselbaai gevlieg.
'n Herdenkingsdiens, wat Vrydag 1 Oktober plaasgevind het, is deur 'n wye spektrum van die publiek, vriende en familie bygewoon wat almal na sy goeie humorsin en bulderende lag verwys het wat enige vertrek kon ophelder.
Volgens Jordaan sal hy ook as 'n uitstaande familieman, tuinier en onbaatsugtige vriend onthou word.
Prof. Francois Hanekom, wat hom ook goed geken het, het gesê hy het baie vir bejaardes gedoen en was dikwels in die hof met bystand ten opsigte van maatskaplike probleme.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'