GEORGE NUUS - Dean van Rooy, 'n Pacaltsdorp-inwoner wat lank reeds 'n stryd voer om loslopende plaasdiere uit hul woonbuurt verwyder te kry, het die George Herald uit radeloosheid genader.
Van Rooy se 78-jarige buurvrou het verlede week geval en haar pols gebreek toe sy probeer het om 'n perd te verwilder wat haar blomme afgekou het. "Ek probeer al jare om die munisipaliteit so ver te kry om eienaars van loslopende diere vas te vat. Ek het selfs 'n prokureur gekry. Dit het gehelp om varkhokke na 'n baie lang gesukkel uit ons woonbuurt weg te kry, maar die perde en beeste is nog hier. Die perde-eienaars het afgekampte grond in Andersonville en naby Kwelanga Lodge gekry, maar hulle steur hulle min," sê Van Rooy.
Selfs 'n besoek van die hoof van wetstoepassing, Richard von Wielligh, en burgemeester Melvin Naik het geen effek gehad nie.
Weet wie eienaars is
Die perde loop op munisipale grond in die woonbuurt in Hedgeweg en Beukesstraat se omgewing. Dit is nie omhein nie. Van Rooy sê die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling weet wie die eienaars is.
"Die kinders wat die perde ry, steur hulle nie aan ons nie. Hulle raak aggressief as ons hulle aanspreek. Sondagmiddae is dit hulle tyd om in die straat op en af te jaag."
Steven Erasmus, direkteur van veiligheids-dienste, sê munisipale wetstoepassers was ná ontvangs van die klagte van die inwoner wat geval het, byna onmiddellik op die toneel. Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het later met die nodige toerusting by hulle aangesluit om die perde te skut. Die eienaar het egter die perde verjaag voordat hulle geskut kon word. "Die kwessie word tans ondersoek met die oog op moontlike optrede."
Volgens Van Rooy was die perde Saterdag weer terug in die oop veld en daar is vir hulle water neergesit. "Na die tannie se val het wetstoepassing se beamptes daar gestaan met vier seuns met die perde. Hulle weet wie dit is."
Die grasperk is weiding.
Verskerpte optrede
Erasmus het gesê die munisipaliteit kyk tans dringend, in oorleg met "talle" rolspelers, na die mees effektiewe maniere om die probleem van rondloperdiere in die algemeen hok te slaan.
Eienaars van diere wat gesondheids- en veiligheidsrisiko's vir inwoners inhou, en voortgaan om wetgewing te oortree, kan verskerpte optrede verwag wat boetes en/of regstappe mag insluit.
Onafgekondigde blitsbesoeke in die probleemgebiede sal deurlopend van Januarie af plaasvind.
Erasmus het gesê rondloperdiere in residensiële areas moet by wetstoepassing aangemeld word by 044 801 6350 of na-ure by 044 801 6300. Mense moenie self diere probeer verwilder nie. Die DBV kan ook gebel word by 044 878 1990. Hul noodnommer vir hoofsaaklik beseerde diere is 082 378 7384.
Perde in die oop veld in die omgewing van Hedgeweg en Beukesstraat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'