GEORGE NUUS - Die kwartaalikse begrotingsverslag van George-munisipaliteit (April tot Junie 2017), is Maandag tydens 'n spesiale raadsvergadering deur die George-raad goedgekeur.
Die verslag is 'n opsomming van die hoofbegrotingskwessies wat voortspruit uit die moniteringproses deur die jaar. Dit vergelyk die vordering van die begroting met die skattings en voorspellings soos saamgevat in die munisipale implementeringsplan vir dienslewering.
PBI-raadslid Patrick Buys, het sy kommer uitgespreek oor die onderprestasie van die departement van menslike nedersettings. "Hulle kon nie enige van hul teikens behaal nie," het hy gesê.
Icosa-raadslid Wilbur Harris, het tydens sy spreekbeurt gewaarsku teen die misbruik van afwykings in die begroting. "Wanneer ons geld gou wil spandeer maak ons gebruik van afwykings. Ons doen 'n beroep op die burgemeester om die trant van sake fyn dop te hou en te verhoed dat daar misbruik gemaak word van afwykings," het hy gesê.
EFF-raadslid Laetitia Arries, het haar kommer uitgespreek oor die "astronomiese bedrae vir oortyd en bystand".
ACDP-raadslid Johan du Toit, het die verskillende direktorate geprys vir hul dienslewering.
"Ons is geneig om altyd net te kritiseer," het hy gesê. "Ons is bly vir dit wat hulle reeds gedoen het en dit wat hulle beoog om te doen." Hy het wel sy bekommernis uitgespreek oor die hoeveelheid sleutelprestasieaanwysers (vasgestelde doelwitte) wat nie bereik is nie, asook die oortydspandering.
In die DA-stoele is van links: raadslede Dirk Wessels, Jacqulique von Brandis, Peter Louw, Liza Stroebel en burgemeester Melvin Naik.
DA-raadslid Dirk Wessels, het in sy spreekbeurt gesê die meeste kapitaalprojekte word eers in die laaste kwartaal voltooi, dit is waarom uitgawes so hoog is in Mei en Junie. Oor die kritiek rondom die departement van menslike nedersettings het hy die volgende gesê: "Huise kan net gebou word wanneer die geld van die regering ontvang word. Die munisipaliteit begroot nie vir die bou van huise nie."
Wessels het benadruk dat 'n totaal van R1,8 miljoen afgeskryf is met betrekking tot dienslewering aan deernishuishoudings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'