Update
GEORGE NUUS - 'n Sekerheidswag van Rosedale, Anwar Storm (42), sterk goed by die huis aan ná hy vroeër vandeesmaand deur drie aggressiewe veghonde (pitt bull terriers), aangeval is.
Storm was een van minstens vyf mense wat die oggend van 7 Maart deur dié drie honde in George aangeval is. Hy was aan diens by Stanmar Motors toe die honde hom beetgekry het.
"Ek het om die hoek gekom en die honde het daar vir my gestaan en kyk. Hulle het my bestorm en aan my begin ruk. Ek het hulle met my knuppel probeer afweer, maar dit het nie veel gehelp nie. As dit nie was vir Outeniqua Bakkery se voertuig wat daar aangekom het nie, was ek seker dood," vertel Storm.
Die ambulans is ontbied en Storm is met ernstige wonde aan sy linkerhand en regterarm na die hospitaal geneem. Hy moes intussen ook 'n heupvervanging ondergaan weens frakture wat tydens die aanval opgedoen is.
"Ek sterk goed aan. Ek hoop om binnekort weer te kan werk. In die stadium loop ek met 'n loopraam en ek moet fisioterapie ontvang om weer te leer loop met die nuwe heupe," sê hy.
Die reeks aanvalle het omstreeks 04:30 naby Steinhoff-besigheidspark begin toe die eerste persoon aangeval is.
Die Tuinroete DBV is na die toneel uitgeroep. Kort daarna het hulle nog 'n oproep ontvang oor 'n aanval in die omgewing van Lancewood in die Tamsui-nywerheidsgebied. Daarna het die aanval op Storm gevolg en nog een op twee mense op die N2.
Een van die ander slagoffers, die bekende George-atleet Lloyd Bosman, was op sy oggenddrafroete toe die honde hom naby die N2 aangeval het. Hy het beserings aan sy linkerhand en bobeen opgedoen, maar is dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan en kon intussen weer begin draf.
"Ek is gelukkig. Dit kon so anders gewees het. Ek het net geweet as hulle my aftrek, is ek klaar," het Bosman gesê.
Ná 'n lang gesukkel het die DBV, met behulp van die eienaar, die honde op die N2 naby Groeneweide Park vasgekeer en gevang. Die honde is dieselfde dag uitgesit.
Related article: Five attacked by vicious dogs
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'