GEORGE NUUS - ER24-takbestuurder: Suid-Kaap, Charl Pretorius, sê hulle sal voortaan geen dienste in twee dele van Blanco (Golden Valley en Die Skeem) sonder polisiebegeleiding, meer lewer nie.
"Indien daar 'n noodgeval is, en polisie is nie beskikbaar nie, sal geen van ons ambulanse in dié twee gebiede beweeg nie," sê hy.
Die besluit spruit uit 'n voorval waarin een van hulle ambulanse gisteraand, Saterdag 14 Maart, aangeval is.
"Ons lede was onderweg na 'n mediese noodgeval waar 'n 2 maande oue babatjie asemhalingsprobleme gehad het. Omstreeks 23:30 is ons voertuig in Fortuinstraat deur 'n groep oproeriges voorgekeer en omsingel.
"Toe die bestuurder agteruit wou ry het hulle die ambulans met klippe bestook en teen hom geslaan," sê hy.
Die bestuurder van die ambulans kon daarin slaag om ongedeerd van die toneel af weg te ry en kon uiteindelik die baba veilig by die hospitaal kry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'