GEORGE NUUS - Drie oudleerlinge van die Hoërskool Outeniqua, Elroy Gelant (34), Bianca Buitendag (27) en Jo-Ane van Dyk (23), het mekaar vanoggend by die Olimpiese Spele in Tokio, Japan raakgeloop.
Hulle het vanoggend saam geposeer vir ‘n foto in die Olimpiese Spele se atlete dorp.
Gelant, wat in 2004 in gr. 12 was, het Woensdagaand in die land aangekom en neem op 8 Augustus (die laaste dag van die Olimpiese Spele) aan die maraton deel. Buitendag was 'n gr. 12-leerling in 2011, en het reeds aan die branderplankry deelgeneem.
Sy bring ‘n silwermedalje huis toe en is amper op pad terug na Suid-Afrika. Van Dyk was in 2015 in gr. 12 en neem Dinsdag (3 Augustus) aan die spiesgooi deel.
Jo-Ane het vanoggend by navraag laat weet almal is nog gesond en dit gaan goed.
Elroy het gesê hy is nog ’n bietjie vlugvoos, maar dit was goed om Bianca met die medalje te sien. “Dis een vir George en een vir Kwaggas.”
Volgens hom is daar ‘n goeie atmosfeer tussen die atlete. Span Suid-Afrika is baie rustig.
“Ek sien uit na die kompetisie en dink daar is nog vele medaljes wat kom soos ek die atmosfeer tussen die atlete sien.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'