GEORGE NUUS - Bianca Buitendag, George en Victoriabaai se eie silwermedaljewenner by Olimpiese Spele in Japan, het Dinsdag 27 Julie nie net inwoners van George en Victoriabaai trots gemaak nie, maar die ganse Suid-Afrika.
Sy het in die eindronde van branderplankry in die vroueafdeling te staan gekom teen die nommer een gekeurde Carissa Moore van Amerika wat vanselfsprekend as een van die gunstelinge beskou is.
In die finaal was Moore en Biance tot en met die laaste 50m nek-aan-nek, maar het Moore uiteindelik geseëvier en die goue medalje ingepalm. As 'n mens Bianca se groot poging om 'n silwermedalje te kon wen in perspektief stel, moet 'n mens in ag neem dat sy aangetree het by die Spele as slegs die 17e gekeurde.
Op pad na die finaal het sy een van die gunstelinge, Stephanie Gillmore uitgeskakel, wat derde gekeur was. Gillmore was self al sewe keer die wêreldkampioen.
Vanjaar was ook die eerste keer dat branderplankry as Olimpiese sport aangebied is.
Dis 'n lang pad wat sy geloop het. Van 'n vyfjarige wat geleer branderplankry het, later as 14-jarige na die buiteland om aan internasionale kompetisies deel te neem en nou glorie by die Olimpiese Spele.
Bianca Buitendag met haar silwermedalje.
In die aanloop voor haar vertrek na Japan het sy vals positief getoets vir Covid-19 en sy het amper nie gedink sy sou nie kon deelneem nie. Kort voor haar vertrek op Vrydag 16 Julie het sy egter gelukkig twee keer negatief getoets en sy kon die vlug na Japan haal.
Bianca het gisteroggend (Woensdag 28 Julie) aan George Herald gesê dit was een van die wonderlikste weke van haar lewe.
"Dit is baie emosioneel. Ek is baie bly om die goeie nuus terug te bring huis toe. Dat ek dit vir my land kon doen, was vir my die grootste voorreg. "Ek sien uit daarna om dit by die huis te kom vier en so vinnig moontlik weer in die water te spring by Victoriabaai."
Sy sal na verwagting teen Vrydag of die naweek terug in Victoriabaai wees. Bianca het gisteroggend op haar Facebook-bladsy geskryf dat dit 'n einde bring aan 'n fenomenale hoofstuk in haar lewe. Wat 'n wyse om die wenstreep so oor te steek.
Die see is haar terapie. Die plek waar sy die naaste aan die hemel voel.
Sy het mense bedank wat deel was van die kleurvolle reis die afgelope dekade. Sy het ook haar dank teenoor die Hemelse Vader uitgespreek wat haar hand vasgehou oor al die jare. Sy het die medalje aan haar ma, Yvette opgedra. "Sy verdien silwer en goud," het Bianca gesê.
Die George-munisipaliteit het in 'n verklaring Buitendag gelukgewens met haar prestasie. Luidens die verklaring het die munisipaliteit finansiele steun aan haar gegee. Dit was deel van pogings om plaaslike sporttalent te steun en die kollig te plaas op Victoriabaai as top branderplank bestemming.
Christo Vorster, hoof van die Hoërskool Outeniqua, het gesê die skool is baie trots op Bianca.
"Dis skitterend. Dis die eerste keer dat 'n oudleerling van die skool 'n medalje by die Olimpiese Spele wen. Die skool sal later op 'n gepaste wyse erkenning aan haar gee." Buitendag was in 2011 'n gr. 12-leerling aan die skool en Vorster ken haar.
"Sy het destyds gereeld aan kompetisies onder meer in die buiteland deelgeneem. Dit het beteken dat sy met tye afwesig was van die skool. Nieteenstaande die afwesighede, het sy steeds akademies goed presteer."
Bianca Buitendag in die see tydens haar deelname aan die Olimpiese Spele in Japan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'