GEORGE NUUS - Die restourasiespan van Die Akkertjie-kleuterskool in Pacaltsdorp is so saam met die hartseer van die afgelope week ook opgewonde.
Volgens die skoolbestuurder, Ingrid Tyler, is die skool se speelapparaat deur vandale beskadig en gesteel.
"Hulle het een aand van die pale afgesaag en die volgende aand die alarm se drade afgesny en die buiteligte gesteel," het sy gesê.
Die saak is blykbaar by Pacaltsdorp-polisie aangemeld en volgens Tyler maak hulle goeie vordering. "Ons weet wie dit is. Dit is iemand van die buurt wat betrokke is. Ons vermoed dit is 'n paar mense."
Groen lig
Intussen het die skool die groen lig van die departement van onderwys ontvang om voort te gaan met skoolgee in die historiese gebou.
George Herald het 'n maand gelede (17 Februarie, Die Akkertjie vernuwe sy dop) berig oor die groot restourasieprojek wat by die skool van stapel gestuur is.
'n Hele projekspan het sonder ophou gewerk om die skool weer geskik te kry om kinders te ontvang. "Ons is bitter naby daaraan om ons deure oop te maak," het Tyler gesê.
Die bestuurder van vroeëkindontwikkeling in dié onderwysdistrik, Lucretia Roux, het die skool onlangs besoek en 'n paar aanbevelings gemaak. Dit is nou hierdie finale detail waaraan hulle aandag gee.
"Hierdie veranderinge sal klaar wees voor die skool op 5 April begin," het Tyler gesê. "Ons gaan van die klaskamers teël en Donderdag [vandag] gaan die buitemure geverf word. Die eienaar van Heeltyd Speeltyd, Aletta Janse van Rensburg, het vir ons stoele en tafels vir die leerders geskenk en gehelp met administratiewe sake. Die werksprogram CWP, onder leiding van Petrus Moller, het gehelp met arbeid om die opknappingswerk te voltooi. Ons is absoluut gelukkig met die vordering, stadig maar seker is ons besig om die eindpunt te bereik."
Volgens Tyler het die skool nou genoeg tafels, maar benodig hulle nog 'n klompie stoele vir leerders.
Poste
Tyler vra dat gekwalifiseerde onderwysers die media en sosiale media moet dophou vir poste wat vanaf volgende week geadverteer gaan word.
"Ons het reeds 'n paar CV's ontvang, maar sal deur 'n keuringsproses gaan," het sy gesê. Ouers kan hul kinders vanaf Woensdag 25 Maart begin registreer by die skool. Die klasse wat beskikbaar is sluit in RRR (jaar waarin 'n kind vier word), RR (jaar waarin 'n kind vyf word) en R (jaar waarin 'n kind ses word). Klasse word in beide Engels en Afrikaans aangebied.
Vir inligting kontak Tyler by 082 736 1253 of Yvonne van Heerden (restoureerder) by 083 388 8791 of die kerkkantoor by 044 878 0877 (van 08:30 tot 15:30).Heelwat harde werk het plaasgevind met die opknapping van die kleuterskool.
Aitsa! Hierdie klas is reg vir klein mensies wat wil leer en speel.
Die skool benodig nog 'n klompie stoeltjies soos die een in die foto.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'