GEORGE NUUS - In die George munisipale gebied is 452 agterplaasbewoners op die waglys geregistreer.
Volgens die munisipale direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, is diegene wat in vroeër jare vir huise aansoek gedoen het, nie op daardie tydstip versoek om aan te dui dat hulle agterplaasbewoners is nie.
"Dit bring mee dat baie persone nie daarvoor geregistreer is nie," het hy gesê. "Persone word versoek om so spoedig moontlik die behuisingskantore te besoek ten einde hul besonderhede op te dateer.
"George-munisipaliteit is tans besig met subsidie administrasie met persone in die genoemde prioriteitsgroepe wat voor 2002 /2003 aansoek gedoen het, om te bepaal of hulle vir 'n behuisingsgeleentheid sal kwalifiseer binne die huidige behuisingsprojekte. Daar is dus 'n 18 jaar agterstand," het Lubbe gesê.
Wie kom eerste in aanmerking vir huise?
- Persone 60 jaar en ouer (langste op die waglys)
- Persone met gestremdhede (langste op die waglys)
- Persone wat die langste op die waglys is (langer as 15 jaar)
- Huishoudings wat deur kinders bestuur word
- Agterplaasbewoners - veral enkelma's (wat die langste op die waglys is).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'