GEORGE NUUS - Agterplaasbewoners gaan volgende week landwyd stem dik maak as deel van 'n nasionale optog. Hulle is nou keelvol vir die lang gewag vir huise wat jaar na jaar beloof word.
Brendon Adams, een van die organiseerders, sê op 30 Augustus om 08:00 gaan inwoners van verskeie areas in George bymekaarkom en na die middedorp beweeg waar 'n memorandum aan 'n provinsiale verteenwoordiger van behuising en munisipale bestuurder van George oorhandig gaan word.
Hy sê hulle wil ook 'n brief aan die nasionale minister van menslike nedersettings skryf om 'n imbizo aan te vra. "Ons gaan vra dat 'n dringende imbizo vir behuising in die Wes-Kaap hier in ons area asook in Kaapstad gehou moet word."
Adams sê die imbizo gaan gehou word met die oog op onteiening van grond veral in areas waar mense se grond van hul weggeneem is gedurende apartheid.
Virgill Gericke van die PBI-party sê die beweging het hul volle ondersteuning.
"Die erns van die kwessie word juis vervat in vorige mosies wat die party by die George-raad ingedien het. Hiervolgens vra ons dat 'n werksessie gereël word en alle geaffekteerde partye en verteenwoordigers genooi word om 'n deeglike en ingeligte strategie daar te stel en om die dringende behoefte aan te spreek."
Gericke sê kundiges moet ook genooi word, omdat die behoefte vir grond en eienaarskap, nou krisisafmetings aanneem.
"Die munisipaliteit durf nie meer voete sleep met 'n saak wat duisende mense se lewens raak nie. Die DA-beheerde raad van George moet nou wakker skrik en die grondwetlike reg van toegang tot behuising, moet nou 'n prioriteit word, om die lewensomstandighede van behoeftiges te verander."
Hy sê die departement van behuising het reeds gereageer op hul mosie en hulle hoop om die kwessie spoedig af te handel. Intussen vra hulle dat alle mense hierdie optog ondersteun om sodoende publieke aandag daarop te vestig.
"Die lot van bejaardes, vroue en kinders kan nie meer geïgnoreer word nie. Ons vertrou dat die optog vreedsaam sal verloop en dat die agenda van die huisloses ernstig opgeneem sal word."
Lorraine van Schalkwyk van Blanco, sê hulle verwelkom die optog. "Hier is mense wat al lewenslank in agterplase woon en nooit subsidies kry nie. Mense is vir jare op waglyste, maar kom nêrens nie."
Brendon Adams, 'n organiseerder van die betoging in George.
Van Schalkwyk sê as daar mooi gekyk word, kry die jonger geslag huise, maar die ouer garde word afgeskeep. "Die meerderheid het nie eens sanitasie-geriewe nie, en baie moet nog van die emmerstelsel gebruik maak."
Hein Scheepers, woordvoerder van die beweging, sê hulle hoop die optog gaan druk plaas op die plaaslike regering, die distrik sowel as provinsie. Hy sê hulle hoop ook dit gaan dienste verseker teen 'n spoed wat mense gelukkig maak.
"En vir die wat eenkant staan en hoop dinge word gedoen, die optog is ook vir hulle," sê Scheepers.
Die organiseerders sê Conville, Borcherds, Parkdene, Lawaaikamp en Thembalethu se mense kom by die Conville-burgersentrum byeen. Blanco se groep gaan by hulle aansluit in Nelson Mandela-boulevard, Pacaltsdorp se mense kom byeen by Laerskool New Dawn Park en kry Rosedale inwoners op die Pacaltsdorpburg.
Chantel Edwards-Klose, die kommunikasie bestuurder by George-munisipaliteit, het bevestig die optog is wettig en dat dit nasionaal plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'