Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Volgens die Burgerregte-organisasie AfriForum se watergehaltetoetse wat verlede week in George gedoen is, voldoen die dorp se drink- en rioolwater aan die minimum wetlike standaarde.
Die toetse is verlede Donderdag gedoen om die organisasie se jaarlikse nasionale SkoonWater-projek amptelik van stapel te stuur. AfriForum se uitgangspunt is dat die staat nie langer vertrou kan word om veilige water te verskaf nie en daarom toets hulle self die gehalte.
Arno Greyling, Suid-Kaapse koördineerder, het gesê die departement van water en sanitasie (DWS) het die laaste amptelike Blou- en Groendruppelverslag sewe jaar laas gepubliseer.
Hy het saam met Pieter Nel, voorsitter van die George-tak, die drinkwatertoets in George by 'n kraan by die Rosemoor-ouetehuis gedoen. Hierdie perseel is gekies omdat AfriForum later vandeesmaand 'n gemeenskapsaksie by die ouetehuis beplan.
AfriForum-takke landwyd word gemobiliseer om die gehalte van munisipale water te toets. Waar toetse wys dat daar 'n probleem met die gehalte is, word die water weggestuur vir laboratoriumtoetse en die uitslag daarvan word gebruik om druk op die betrokke munisipaliteit te plaas om sy sake binne 'n billike tydraamwerk in orde te kry. "Dit is nie altyd suksesvol nie, maar ons probeer om die druk vol te hou en dit aan die groot klok te hang. Ons hoop om só 'n kultuurverandering te weeg te bring," sê Greyling.
Hy het verwys na AfriForum se watergehalteverslag van 2018 wat getoon het dat watergehalte in veral dorpe in die Oos- en Noord-Kaap nie aan die minimum wetlike standaarde voldoen het nie.
Kyk 'n video hieronder:
AfriForum doen die afgelope vyf jaar ook 'n vullisterreinoudit en Greyling sê hulle glo dat volgehoue druk van AfriForum gehelp het dat Oudtshoorn se vullisterrein nou omhein word.
Die SkoonWater-projek is deel van 'n maand lange program in Mei waartydens AfriForum sy aktiwiteite aan die publiek bekend wil stel. In George word onder meer 'n sakeontbyt met Kobus Wiese, 'n rivierskoonmaakaksie en skoleveiligheidsoudit beplan.
Arno Greyling, AfriForum se Suid-Kaapse koördineerder, het die toetse gedoen in die kombuis van die ouetehuis se administrasieafdeling.
Lees 'n vorige artikel: Afriforum begin jaarlikse watertoetse
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'