TUINROETE NUUS - Werskaflegging kan voel soos 'n doodloopstraat waaruit jy moeilik 'n U-draai kan maak. Of jy kan ontdek "dat daar vuur in jou are is". Soos Tenille Swanepoel, die meesterbrein agter 'n nuwe unieke handelsmerk vir vroue wat lief is om te braai.
Boonop, soos dit dikwels met geluk by die ongeluk werk, het die dobbelsteentjies hierdie keer in haar guns geval. Terwyl haar handelsmerk eintlik nog in sy kinderskoene is, is Tenille deur die digitale kanaal WonderTV opgeraap vir die maak van 'n nuwe leefstylprogram waarvan 13 episodes verfilm is.
Werkloos
Tenielle het in haar hoërskooljare in Mosselbaai gewoon en is 'n oud-Kwagga. Haar ouers woon steeds in Mosselbaai, waar haar ma Elaine Stander, 'n bekende swemafrigter en predikantsvrou is.
In Julie, het Tenille soos baie Suid-Afrikaners die volle impak van Covid-19 beleef toe haar pos by die Foshini-groep beëindig is.
As enkelouer, was werkloosheid nie 'n opsie nie. Met haar agtergond as stilis en inkleder, was daar van werksgeleenthede in die tydskrifsektor geen sprake nie.
Einde Julie, net ná die verpletterende nuus kuier Tenille by haar ouers. Hierna het sy en haar seun Izak (8) gaan kamp. "Toe ek die braaibroodjie so omdraai, toe tref dit my, ek gaan 'n braaihandelsmerk vir vroue skep." As uiteinde van haar aha-oomblik, is BRAAiDSMAID op 1 Augustus gebore.
"Op pad huis toe, het ek 'n vriendin met 'n sakebrein gebel en my idee op haar getoets. By die huis gekom, het ek groot en belaglik gaan dink. Ek het gedink aan produkte, branded T-hemde, skoene, selfs 'n televisieprogram." En siedaar, hulle sê nie verniet dat as jou droom jou nie bangmaak nie, is dit nie groot genoeg nie.
Die leefstylprogram op WonderTV, waarvan Tenielle die aanbieder is, is juis daarop gemik om die gaping wat ontstaan het nadat soveel vrouetydskrifte tydens die Covid-19-pandemie moes sluit, te vul.
Braaistories
Tenielle sê haar handelsmerk is daaruit gebore dat elke vrou 'n braaistorie het. "Daar is soveel vroue wat alleen is, vir watter rede ookal, en nie kan rondsit en wag vir 'n man om te braai nie. My eerste braai as enkelma het ek met 'n botteltjie naellakverwyderaar aan die gang gekry." Die heel eerste episode van haar leefstylreeks gaan hoeka oor braaihout.
Sy wil die vrees en stigma vir vroue uit braai haal. "Vroue is so amazing in die kombuis, waarom dan nie om die braaivuur ook nie?"
Die produkte in haar reeks is bekostigbaar. "Ek is my eie teikenmark. As enkelouer is daar so baie mooi produkte, maar dis net te duur." Haar eerste kliënt was haar seun Izak. "Hy kon nie wag om te shop nie."
Tenille rond die prentjie af met die klinkklare definisie wat 'n 'braaidsmaid" nou eintlik is. 'n Gedeelte daarvan lui so: a strong girl or woman, usually one of several, who knows her way around a braai. A caring and supporting figure within her tribe. (A woman with fire in her veins.)
Tenille Swanepoel en haar eerste kliënt, haar seun Izak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'