Update
GEORGE NUUS - Dr. André Hattingh, stigter en uitvoerende hoof van Pediatric Care Africa, is op Saterdagoggend, 25 Februarie, deur George op 'n motorfietstoer van 7 000 km om geld in te samel vir kinders wat mediese sorg en operasies nodig het, maar dit nie kan bekostig nie.
Hattingh het van Mosselbaai af deurgery na George, vergesel van 'n klompie plaaslike ryers en onder begeleiding van voertuie van die Outeniqua-buurtwag.
'n Paar George-ryers het by die Sasol-vulstasie by Kraaibosch by hulle aangesluit om saam te ry tot by Stormsrivier in die Tsitsikamma.
Hattingh, 'n afgetrede neurochirurg, noem sy motorfietstoer 'Ride for a Child'. Hy het 12 Februarie in Witrivier, Mpumalanga begin ry en beoog om op 4 Maart weer terug te wees. Dit is die vierde jaar wat hy die rit onderneem om bewusmaking te skep van die nood vir mediese hulp onder arm kinders.
Die idee het in 1994 by hom posgevat toe hy tydens die volksmoord in Rwanda mediese hulp gaan verleen het.
"Ongeveer 16 000 kinders is vermoor en sewe of agt keer meer het beserings opgedoen. Niemand het daardie kinders gehelp nie. Ek het daar die gedagte gekry dat ek kinders wil help."
Na sy aftrede het hy met sy vrou, Joyce, se hulp hierdie belofte begin nakom deur die stigting van Pediatric Care Africa in 2017.
Vanjaar is sy doel om genoeg geld in te samel vir ten minste 45 operasies, 1 000 besoeke aan 'n algemene praktisyn en 400 besoeke aan 'n spesialis.
Die 'Ride for a Child'-toer is 'n geldinsamelingspoging vir Pediatric Care Africa wat gratis mediese sorg vir arm kinders verskaf.
Hy sê hulle kry oproepe van weeshuise, skole, kerke en dokters wat kinders verwys. Ma's kontak hulle ook. "Die Covid-pandemie het die nood vererger. Ek wil net vir kinders 'n kans gee. 'n Kind het net 'n bietjie liefde en 'n kans in die lewe nodig, en as hy gesond is, het hy 'n kans."
Pediatric Care Africa is op soek na 'n spesialis en algemene praktisyn of algemene chirurg in George wat sal help met twee operasies per jaar hier plaaslik.
Hattingh sê hy kry goeie ondersteuning langs die pad. Mense kan donasies in 'n donasieboksie gooi of hulle kan Hattingh per kilometer borg, of net 'n gewone donasie maak.
Nog 'n bron van donasies is die kentekens wat motorfietsryers koop wanneer hulle hom vir 'n ent op sy rit vergesel.
Vir meer inligting oor Pediatric Care Africa of om 'n donasie te maak, skakel 076 229 5663.
Dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa saam met motorfietsryers van Mosselbaai en George wat hom tot by Stormsriviermond in die Tsitsikamma vergesel het. Foto's: Alida de Beer
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'