GEORGE NUUS - Drie modelle van ACE Models se Mosselbaai en George-tak het uitgeblink by die jaarlikse ACE Model nasionale konferensie wat van 22 tot 25 September by Emeralds Resort & Casino in Vanderbijlpark plaasgevind het.
Megan Muller, Arrieka Clift en Gia Gerber het onder die topvyf in sekere kategorieë in hul ouderdomsgroep geëindig en Gia was ook die wenner van die Miss Ace International Body Beautiful ouderdomsgroep 7 tot 9 jaar.
Boonop het die tak ook die Best Showcase Beginner-toekenning, asook die Best New Franchise-toekenning gewen.
Meer as 300 modelle vanoor die land het in verskillende afdelings deelgeneem.
Die Mosselbaai en George-tak het die streek verteenwoordig met 17 modelle tussen vyf en 14 jaar oud, ondersteun deur 16 ma's en die direkteur en afrigter van die span, Elani Pretorius.
Pretorius is baie trots op die deelnemers wat in slegs een jaar sedert die tak se ontstaan al soveel bereik het.
Pretorius, in samewerking met Nikita van Zyl, het die boeiende vertoonvenster gechoreografeer terwyl Marinette van der Merwe se pragtige kostuumontwerpe 'n ekstra tikkie glans by die geleentheid gevoeg het.
'n Paar ACE modelle van Mosselbaai het ook uitgeblink deur in verskeie afdelings in die topvyf posisies te eindig.
Die groep van ACE Models Mosselbaai en George-tak wat deelgeneem het. Megan Muller (topvyf: Runway 13 tot 15 jaar) is agter, 6de van links, Arrieka Clift (topvyf: Pageant 10-12 jaar) is agter, 2de van regs en Gia Gerber (topvyf: Pageant en wenner: Body Beautiful 7-9 jaar) is voor, 2de van links.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’