GEORGE NUUS - Niks is seker onmoontlik nie, maar inwoners van George hoef nie regtig bekommerd te wees oor 'n moontlike aardbewing met katastrofiese gevolge nie.
Dit is die boodskap van dr. Esme Spicer, 'n bekende geoloog en eienaar van Rock hounds. Sy het by navraag gesê dis onwaarskynlik dat 'n aardbewing hier kan voorkom. Dis meer waarskynlik dat ligte aardtrillings gevoel kan word.
Vrae het die afgelope tyd ontstaan nadat seismiese aktiwiteit in dele van die Wes-Kaap, Gauteng en die Vrystaat voorgekom het. Mense het paniekerig geraak en daar was selfs kommer oor moontlike tsoenami’s by mense wat naby die kus woon.
Volgens Spicer moet in gedagte gehou word dat George op graniet geleë is. Dit help en verseker stabiliteit. "Ons naaste verskuiwing is die Kango-verskuiwing. Dit is aan die ander kant van die Outeniquaberge en loop deur die Swartberge.
"Daar is wel 'n kleiner verskuiwing wat deur George tot by Plettenbergbaai loop. Dit is familie van die Kango-verskuiwing, maar is nie iets om oor bekommerd te wees nie."
Die Kango-verskuiwing was 11 000 jaar gelede regtig aktief en in terme van geologie word dit steeds as aktief beskou.
Die Kango-verskuiwing koppel met die Colenso-verskuiwing. Dit is wat die bewegings by Worcester veroorsaak. Dit was ook die oorsaak van die aardbewing in 1969 in Tulbagh.
Volgens haar is daar eintlik elke maand aardbewings in Suid-Afrika. Mense besef dit net nie. Gemiddeld is daar 30 tot 40 elke maand, maar dit is baie klein. Dit registreer net sowat 2 op die Richterskaal. Die skaal registreer bewegings tussen een tot tien. Enige beweging van meer as 4 op Richterskaal raak meer gevaarlik.
In die onlangse verlede was die ernstigste in Suid-Afrika in Carltonville in die noordelike deel van die land wat 4,4 op die Richterskaal registreer het en een by Malmesbury wat 2,9 registreer het.
Die Raad van Geowetenskappe (CGS) monitor situasies en mense wat bewegings wil volg kan hul webtuiste besoek. Daar is ook instansies wat bewegings onder die seebodem dophou en betyds kan waarsku oor moontlike tsoenami’s.
Volgens haar sal mense in die Kaapse Skiereiland eerder aardtrillings voel as mense in die Suid-Kaap of Tuinroete. Die teenwoordigheid van dolomiet in en om Gauteng, gesamentlik met baie diep ondergrondse mynbou-aktiwiteite, vergroot die kanse tot trillings in die rotse wat geneig is om ook baie holtes te hê.
Die gevolge kan ook meer katastrofies wees in sulke gebiede.
It is unlikely that earthquake will occur in George. Local geologist Dr Esme Spicer has allayed widespread fears after tremors were felt in various Western Cape suburbs subsequent to a magnitude 6,2 earthquake approximately 1 600km south-east of South Africa. Spicer said the George area is situated on granite, which helps stabilise the area.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'