Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Georgiete van verskillende ouderdomsgroepe het Donderdag 31 Augustus sertifikate by Parkdene-gemeenskapsentrum ontvang, nadat hulle verskeie vaardigheidskursusse, aangebied deur departement van landbou in samewerking met George-munisipaliteit, voltooi het.
Die 87 sertifikate is deur raadslede, Gerrit Pretorius (onderburgemeester), Virgill Gericke (PBI-raadslid), Edmund Bussack (wyk 14-raadslid) en Gert Niehaus (DA-raadslid) oorhandig.
Clyde Lamberts, distriksbestuurder van voorligting van die departement van landbou, sê landbou het 'n gaping in vaardighede geïdentifiseer.
"Die doel van die projek is om die begunstigdes te bemagtig met vaardighede."
Die mense is in brandbestryding, gesondheid en veiligheid, noodhulp, leierskap, konflikbestuur, vergaderingsprosedures, kommunikasie en entrepreneurskap opgelei.
Volgens Desmond Carolus, projekkoördineerder, is die fokus van die kursusse ook om die gemeenskap te bemagtig.
"Baie mense in die gemeenskap begin besighede, maar misluk want hulle weet nie hoe om dit effektief te administreer nie, of groei aansienlike mooi groente, maar weet nie hoe om dit te verkoop nie. Die kursusse se opleidingsvaardighede werp lig oor hoe om projekte suksesvol te bestuur," sê Carolus.
Desmond sê dat daar 'n koördineerder in elke area is, hy bevestig ook dat die opleidingsprogramme gereeld plaasvind.
Enige persoon wat belangstel om hul vaardighede op te skerp en by die opleidingspromme betrokke wil raak kan vir Desmond Carolus by 044 801 9173 of 076 652 1652 skakel.
Klik hieronder om 'n video te sien:
ARTICLE, VIDEO EN FOTO'S: BRÜMILDA SWARTBOOI, GEORGE HERALD INTERN
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'