GEORGE NUUS - Oom Pieter Koen, wie se welige groentetuin te Meyerstraat 13 'n baken in sy buurt is, word komende Vrydag 11 Augustus 80 jaar.
Die ouderdom ten spyt, werk hy nog net so fluks in die tuin. Hy en sy vrou Rina woon al 46 jaar in dieselfde huis.
Sy twee dogters en hul mans, Ronèl en Dirk Louwies, en Salmarè Koen en Bertus van der Bank, asook sy kleinkinders, Rina, Rala, Dirkie, en Riana en haar verloofde Jaco Steyn, agterkleinkinders Dantè en Mikayla, en sy geliefde lewensmaat beplan om hom baie te bederf.
"Ons wil hom bedank vir al die jare wat hy die hele familie bygestaan het met al wat 'n probleem is. Geen probleem was nog ooit te groot nie," sê Salmarè. Oom Pieter is 'n Georgiet in murg en been wat in Sinksabrug gebore is. "Hy was die beste hekwag, eers by MTO Forestry se saagmeule en toe by Bokomo Voere."
Oom Pieter plant met die maan en deel graag sy geheime rondom tuinmaak. Sy tuin lewer ruim oeste van kool, aartappels, patats, groenbone, soetrissies, wortels, beet, knoffel, tamaties, eiervrug, vla-appels, boerekomkommers en koejawels.
"My pa kan 'n mens enige tyd van die nag wakker maak en hy sal glimlag ongeag van die probleem of scenario. Ons is so dankbaar vir die Vader dat hy hom vir ons vir so lank spaar," sê Salmarè.
Oom Pieter tussen koolplante wat geil groei.
ARTIKEL & FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'