GEORGE NUUS - George-hospitaal het hul hande die afgelope twee weke vol gehad met die geboorte van vyf pare tweelinge, vier seuntjies en ses dogtertjies.
Die Rheeder-tweeling, Leonard en Lu-Fred, wat verlede Vrydag, 7 Junie, gebore is, is die enigste identiese tweeling.
Ma Madeleine en pa Freddie sê hulle het dit verwag omdat daar tweelinge in albei hul families is. Dit is hul eerste kinders en Freddie is reeds baie handig met windjies uitvryf, maar sukkel nog om die doeke reg vas te maak. "Hulle is nog so klein so ek sukkel bietjie om die doeke reg vas te maak." Maar Freddie laat verstaan jou gou dat sy laaities identies is en wie wie is.
Madeleine sê hulle sukkel nog saans om die twee te onderskei, maar gaan binnekort vir hulle armbandjies kry om hulle makliker uit te ken. As nuwe ouers probeer hulle nog aanpas by die slapelose nagte en om uit te vind wat hul nuwe spruite wil hê as hulle huil. Maar hulle is gereed vir die nuwe avontuur.
Nadia Ferreira, die woordvoerder van die George-hospitaal sê hulle wil graag die ouers van al die tweelinge gelukwens. Sy sê die babas is die afgelope twee weke by die hospital gebore. "Die eerste tweeling, albei dogtertjies, is op 25 Mei gebore. Die ander vier pare was twee pare dogtertjies en twee pare seuntjies."
Volgens Ferreira is daar nog twee pare dogtertjies in die hospitaal. Die dogtertjies is gebore op 25 en 29 Mei en 5 Junie en die seuntjies op 4 en 7 Junie.
Lu-Fred Johann (2,3 kg) en Leonard Lodewyk (2,3 kg) is Vrydag in George-hospitaal gebore.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'