Luke was die jongste kankeroorwinnaar by Kansa se Relay for Life in Februarie. Reeds voordat hy sy eerste verjaardag kon vier, is hy met die rare kanker, kinderfibrosarkoom, gediagnoseer en moes hy chemoterapie en twee operasies ondergaan.
Met 'n onlangse besoek aan huis van die Titus-gesin was daar egter geen teken van hierdie trauma te bespeur nie.
Die blinkoog karnallie het fris en gesond rondgetrippel en sy ma, Michelle, se aandag opgeëis.
Nadat hy twee maande te vroeg sy opwagting gemaak het en Michelle hom kangaroe-styl aan die wêreld moes bekendstel, is die kleine Luke op 'n skrale ses maande met kanker gediagnoseer.
"Hy was drie maande toe ek 'n klein knoppie agter sy linkeroor begin voel. Ek het hom nog geborsvoed. Ons het aanvanklik gedink dit is die oorbeentjie wat prominent is, maar dit het al groter geraak."
Op vier maande is X-strale, 'n sonar en CT-skandering gedoen, maar die dokters kon nie uitsluitsel gee oor wat dit was nie.
Die knop, wat tussen sy vel en skedel ontwikkel het, het aggressief gegroei en twee maande later was dit byna die grootte van 'n tennisbal.
Ouma Rhoda verduidelik, "Luke was altyd knieserig en het ongemak verduur. Hy was reg deur die dag en nag huilerig en het altyd aan die oortjie gevat. Ek en Michelle moes beurte neem om na hom te kyk sodat ons kon slaap inkry."
Die dokters het deur middel van 'n biopsie vasgestel dat dit wel 'n tipe kanker was, maar hulle kon eers ná 'n MRI-skandering by die Rooikruis-kinderhospitaal 'n definitiewe diagnose maak.
Luke sou 'n reeks chemoterapiebehandelings oor die volgende ses maande kry, maar die newe-effekte van die eerste dosis was oorweldigend vir sy klein lyfie en hy was 'n week lank daarna uiters siek. 'n Operasie om die gewas te verwyder was die enigste uitweg.
"Dit was vir ons 'n verskriklike tyd, maar tot ons verligting kon die dokters die gewas skoon verwyder," vertel Rhoda.
Hoewel hy vir die volgende vier jaar nog vir opvolgtoetse moet gaan, was daar ná die operasie geen keer aan die bulletjie nie en kon hy die 'nommer 2-kersie' op sy verjaardagkoek op 7 Maart vanjaar doodblaas.
En Ma Michelle kan met vrede in haar hart haar onderwysstudies, wat sy ter wille van Luke onderbreek het, deur Unisa voortsit.
Klein Luke is sy ma se oogappel. Die familie is dankbaar dat hy skoon is van kanker nadat kinderfibrosarkoom by hom gediagnoseer is toe hy net ses maande oud was. Foto: Alida de Beer