Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Graad 8-leerders van George Sekondêr gaan slegs 13 dae (27%) op die skoolbanke deurbring gedurende die tweede kwartaal van vanjaar se skooljaar. Graad 9- en 10-leerders is 15 dae (31%) toegeken, terwyl graad 11-leerders 19 dae (39%), en matrieks 47 dae (96%) by die skool gaan wees.
Bekommerde ouers beskou hierdie situasie as onaanvaarbaar en wil graag weet hoekom die skool nie eerder 'n rooster met alternatiewe skooldae kan oorweeg nie.
"My gr. 9-dogter is vir drie dae by die skool, en dan vir tien dae tuis. Daarna is sy weer vir twee dae by die skool en weer tien dae tuis. Ons voel ons kinders word erg benadeel. Hierdie is 'n groot probleem," het 'n ouer gesê wat graag anoniem wil bly.
'n Ander ouer beaam die versoek dat alle hoërskoolleerders minstens tussen twee en drie dae per week kan skoolgaan: "Ons probeer tans ons kind op 'n manier van die huis af opvoedkundig stimuleer, maar voel egter dit sal baie beter wees as die kind meer dae skool toe kan gaan en meer volume werk kan behandel vir blootstelling. Ek voel daar is tans 'n groot gaping," het 'n ander ouer gesê.
Nog 'n ouer noem dat haar seun in gr. 10 vir haar 'n groot bekommernis is. "Sy punte het baie gedaal en vir my is dit weens die min onderrig en verstaan van die werk. Ons is nie almal so bevoorreg om altyd op die internet te gaan vir meer navorsing of om video's te kyk van die werk nie. Ek moedig my kind aan by die huis, maar as 'n ouer kan ek hom net tot op 'n sekere punt help."
Nie ideaal nie
Direkteur van die Eden/Karoo-distrik vir die WKOD, Jewel Jonkers, het groot simpatie vir dié situasie. "Hierdie is beslis nie die ideale omstandighede waaronder ons skole moet werk nie," het hy gesê. "Weens die pandemie en gepaardgaande Covid-19-
regulasies (1 meter fisiese afstand) word skole egter gedwing om binne die raamwerk van hul fisiese hulpbronne steeds die beste te gee aan elke leerder."
Die gr. 9's by George Sekondêr is altesaam 404 leerders en sou normaalweg in nege klasse opgedeel wees, maar as gevolg van Covid-19-maatreëls is hulle tans opgedeel in 18 klasse.
Kyk 'n verskafte video hieronder:
Alternatiewe dae
Jonkers het verduidelik dat die laerskole alternatiewe dae skool gaan, maar dat dit nie vir die hoërskole werk nie, omdat die gr. 12-leerders elke dag by die skool moet wees.
"Die laerskole het 'n groot deel klasonderwys terwyl ons sekondêre skole vakonderrig gee. Dit plaas geweldige druk op die fisiese asook menslike hulpbronne," het hy gesê. "George Sekondêr is 'n nie-skoolfondsskool nie, wat veroorsaak dat hulle nie genoeg opvoeders en klaskamers het om die leerders meer skool toe te bring nie. Skole soos Hoërskool Outeniqua het ander bronne en kan daarom die leerders meer dae skool toe bring."
Op 'n vraag of elke skool self besluit hoe hulle hul skoolroosters opstel ten opsigte van Covid-19-beperkinge, het Jonkers as volg geantwoord: "Die skool stel sy eie program saam na gelang van sy eie unieke omstandighede en binne die voorskrifte van die WKOD en Covid-19-regulasies. Hierdie plan word aan die kringbestuurder voorgelê vir advies en goedkeuring."
Derde golf
In 'n video wat vandeesweek op klasgroepe versprei is, vra Jonkers dat almal geduldig sal wees in hierdie uitdagende tye. "Die ramptoestand is verleng en ons almal verwag 'n derde golf," het hy gesê.
"Daar is groot druk op die departement om die skole vir al die leerders oop te maak. Ons verstaan die redes hoekom die druk ontstaan en ons sou dit graag wou doen as die omstandighede anders was. Ons erken ook die negatiewe impak wat die huidige situasie op die emosionele, fisiese en akademiese welstand van ons leerders het."
Jonkers het verwys na skole in Noordwes wat vandeesweek gesluit het, en die opheffing van sport in sommige gevalle, sowel as interskole sportbyeenkomste wat gekanselleer is. Hy het gesê die Covid-19-getalle in die Tuinroete het met 32% gestyg.
"Daar is 'n groot verantwoordelikheid op ons almal om seker te maak dat ons by die Covid-19-regulasies hou," het hy gesê. Hy het bevestig dat geen skool toegelaat sal word om op volle kapasiteit te funksioneer tensy hulle skriftelik aansoek gedoen het en veilig verklaar is nie.
George Sekondêr se unieke uitdagings
Alle kinders het nie toegang tot selfone of rekenaars of data nie. Werk moet dus gekopieer word.
Die voltooiing van die kurrikulum is 'n baie groot uitdaging. Vakadviesdienste lewer egter goeie ondersteuning aan skole.
Die leerders se ingesteldheid teenoor hulle skoolwerk.
Die leerders en die ouers moet die skool ten volle ondersteun.
Die leerders moet, met die ondersteuning van die ouers, selfwerksaam by die huis wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'