Update
GEORGE NUUS - Leerders van Hoërskool George staar 'n tugverhoor in die gesig ná 'n voorval verlede week waarin 'n groep leerders mekaar bygedam het tydens 'n baie fisieke bakleiery. Die voorval was na bewering bendeverwant.
Volgens Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, is die tugverhoor vir volgende week geskeduleer.
'n Video wat gemaak is tydens die voorval het sedert Dinsdagoggend, 2 Augustus, soos 'n veldbrand op sosiale media versprei.
In dié video word gesien hoe die leerders mekaar takel en in 'n baie fisieke bakleiery in 'n klaskamer betrokke raak.
Lessenaars word omgegooi en sommige leerders word op die grond neergegooi, geslaan en getrap.
"Elf leerders is intussen geskors en staar 'n tugverhoor in die gesig. Ongelukkig het gebeure vanuit die gemeenskap na die skoolomgewing oorgespoel, wat gelei het tot 'n bakleiery by die skool," het Hammond gesê.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat hulle bewus is van die voorval deur die verspreiding van die video op sosiale media, maar dat geen formele klagte by die polisie aanhangig gemaak is nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'