Gallery
OMGEWINGSNUUS - Altesaam 17 inheemse bome wat op Woensdag 5 Augustus in 'n bos aan die noordoostekant van die George-gholfbaan geplant is, gaan oor meer as net die herstel van windstormskade.
Volgens raadslid Erika Brown van die George-munisipaliteit dra dit by tot 'n langtermynvisie om 'n netwerk van groen ruimtes regoor die stad te skep wat uiteindelik met mekaar verbind sal word en inwoners veilige stap- en ontspanningsroetes sal bied.
Die bome is geplant in ’n area waar verskeie bome tydens die windstorm van 11 Mei omgewaai het. Tydens die opruimingswerk wat daarop gevolg het, het Gwaing Trading ook uitheemse bome verwyder.
Die maatskappy se eienaar, Darryll Sauer, het besluit om as deel van die onderneming se maatskaplike verantwoordelikheid nuwe bome in die gebied te plant. ’n Groep van sy werkers het die plantwerk gedoen, maar George se burgemeester, Browen Johnson, Brown en raadslid Donovan Gultig het ook die geleentheid bygewoon om aandag op die belangrikheid van die aanplant van bome te skyn.
Wildevye, wildepruime, ficus en Outeniqua-geelhoute het ’n plekkie hier gevind om die gebied se inheemse boomdek geleidelik te herstel ná die skade wat die storm aangerig het.
Volgens Brown is die langtermynvisie om verskillende groen ruimtes in George met mekaar te verbind.
Die uiteindelike doel is om inwoners toegang te gee tot ’n netwerk van veilige, groen staproetes wat onder meer die Tuinroete Botaniese Tuin, die beplande Camphersdrift-vloedversagtingspark en ander groen gebiede deur woonbuurte met mekaar sal verbind.
Burgemeester Browen Johnson staan tussen Darren Sauer (links) en Luke Davids-Louw, albei van Gwaing Trading. Raadslid Erica Brown het ook hand bygesit.
‘Sponsstad’
Die munisipaliteit werk aan ’n langtermynstrategie om George as ’n sogenaamde ‘sponsstad’ te ontwikkel. Dit sal die stad meer bestand maak teen klimaatsverandering.
In plaas daarvan om stormwater so vinnig moontlik weg te lei, fokus die strategie daarop om dit as ’n waardevolle bron te benut deur water ‘vas te hou’ en in die grond te laat insypel.
Groen infrastruktuur, deurlaatbare oppervlaktes, die opvang van reënwater en die uitbreiding van groen ruimtes vorm alles deel van die plan.
Die voorgestelde Camphersdrift-vloedversagtingspark is een van die projekte wat hierdie benadering ondersteun. Benewens beter vloedbeheer sal dit biodiversiteit bevorder, nuwe ontspanningsruimtes skep en uiteindelik deel vorm van ’n groter netwerk van groen ruimtes wat inwoners te voet deur dele van George sal kan verbind.
Darren Sauer en Justice Piki, albei van Gwaing Trading.
'n Gedeelte van die area waar die bome aangeplant is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’