GEORGE NUUS - Twintig kinders van die Voortrekkersoord Goudrand (Randburg) het die George-munisipaliteit se watersuiweringsaanleg gedurende die skoolvakansie besoek om waterbewustheid te bevorder.
Die superintendent vir watersuiwering, Melvin Koopman, het die groep verwelkom en ‘n insiggewende lesing gegee om die prosesse van watersuiwering te verduidelik.
Die kinders het daarna ‘n toer deur die suiweringsaanleg gekry om alles in aksie te sien.
Oordleier Chaleen Strydom, het in ‘n brief die watersuiweringspan bedank vir die vriendelikheid en behulpsaamheid waarmee hulle ontvang is.
“Daar was duidelik vooraf beplanning gedoen met die lesings. Die lesings was insiggewend en die kinders het vir seker baie kennis opgedoen. Die toer deur die aanleg was van hoogstaande gehalte en die personeel was goed ingelig. Julle terrein is baie netjies en dit was net plesier om by julle te kuier,” het sy geskryf.
Koopman het gesê die munisipaliteit deel graag met skole en groepe die belangrikheid van water en watersuiwering.
“Wanneer mense al die prosesse sien waardeur water gaan om dit drinkbaar te maak, kry hulle meer respek vir die water wat in hulle krane loop en sal hopelik uiteindelik water spaar omdat hulle die waarde daarvan beter verstaan.”
Skole en organisasies wat die watersuiweringaanleg wil besoek, kan navraag doen deur 044 803 9264 te skakel.
Assistent proseskontrolleerder Chris Botha, verduidelik dat die tenks agter hom ferrichloried bevat wat kleur en troebelheid in water verwyder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'