Gallery Update
GEORGE VERKIESINGSNUUS - Politieke partye was gister, Woensdag 8 Mei in die algemeen tevrede met die kiesersopkoms in George toe die halfpadmerk van die verkiesing kort na 14:00 bereik is. Kiesers het reeds van voor 07:00 by van die stembusse begin toustaan. Later het die stemgetalle bietjie afgeneem, maar dit sou na verwagting weer later optel.
Darryl Sauer van die ANC het aan die George Herald gesê alles verloop goed en daar was ook 'n baie goeie gees tussen die verteenwoordigers van die politieke partye.
"Die mense kom in groot getalle stem en dit is bo verwagting. Ons verwag 'n hoë stempersentasie."
Volgens Sauer het die weer ook saamgespeel. Aanvanklik was dit bietjie reënerig, maar die weer het later verbeter. "Ons is hoopvol dat ons goed sal doen en nie in 'n moeilike situasie van koalisies beland nie."
Jaco Londt van die DA het gesê dis verblydend dat mense in groot getalle opgedaag het om te stem.
Die tendens het deur die oggend tot vroegmiddag voortgegaan. Daar was egter kommer dat die stempersentasie uiteindelik dalk nie hoog sal wees nie.
Mense kon tot 21:00 stem. Die DA het 'n beroep op kiesers, wat nog nie hul kruisies getrek het nie, gedoen om so gou moontlik te gaan stem voordat dit dalk later sou reën.
Johan du Toit van die ACDP het gesê die party is in die algemeen tevrede met die kiesersopkoms.
"Dis kiesers oor die breë spektrum. Dit is opvallend dat dit heelwat jonger kiesers is wat stem."
Die ACDP het verwag dat daar 'n hoë stempersentasie gaan wees.
Virgill Gericke van die PBI het gesê die opkoms was goed teen die halfpadmerk. "Dit het stadig begin, maar het later opgetel. Ons is by die halfpadmerk, maar mens kan altyd beter doen."
Hy het verwag dat die stemgetalle kort voor sluitingstyd sou optel.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê by die halfmerk is dit 'n situasie van "sover so goed".
Hy het bygevoeg: "Daar is mense wat vir jou stem en daar is mense wat nie vir jou stem nie. Dit is demokrasie. Ons is versigtig optimisties dat ons 'n stewige verbetering in George sal kan wys. Ons sal nie verbaas wees as ons stemtotaal met meer as 100% vermeerder in George nie."
Dawid Kamfer van Icosa het gesê die terugvoering wat hy uit George kry is dat dinge goed verloop het in die eerste sewe uur. "Ons is baie tevrede. Hier en daar was daar foutjies, maar dit was niks ernstigs nie. Dis uitgesorteer."
Met die halfpadmerk agter die rug het hy verwag dat Icosa in George baie beter sou doen as in die verlede.
Dit was wel duidelik dat daar meer bejaarde mense was wat gestem het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'