SUID-KAAP NUUS - Verskeie lede van die DA se oosstreek is in verkiesbare posisies op die party se kandidaatlyste vir die nasionale vergadering, die nasionale raad van provinsies en die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer.
Die oosstreek verteenwoordig byna 25% van die aantal stemgeregtigdes in die provinsie en sluit plekke in soos George, Oudtshoorn, Knysna, Ladismith en Swellendam.
Die verkiesing vind op 8 Mei plaas en die lyste is op 13 Maart by die OVK ingedien. Die OVK het hulle op Dinsdag 19 Maart in kennis gestel of hul kandidate voldoen aan die vereistes ingevolge die Kieswet. Partye kan tot Maandag daarop reageer.
Luidens die DA-lyste beklee Alan Winde, die premierskandidaat die nommer een posisie op die lys vir die wetgewer. Hy is oorspronklik van Knysna. Masizole Mnqasela, kiesafdelingshoof vir Overstrand beklee posisie nommer 11, Tertuis Simmers, kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn, Kannaland en die Garden Route-distriksmunisipaliteit nommer 13 en Donald Grant, kiesafdelingshoof vir Bitou die 19de posisie.
Die volgende kandidate beklee die posisies (in hakies) op die Wes-Kaapse lys vir die nasionale vergadering: (7) Denis Joseph, die kiesafdelingshoof vir Hessequa; (11) Eleanore Bouw-Spies, speaker van die Garden Route-distriksmunisipaliteit; (20) Richard Majola, kiesafdelingshoof vir Kaap Agulhas; (23) Okkie Terblanche, kiesafdelingshoof vir Swellendam; (25) Dirk Kotzé, onderburgemeester van Mosselbaai en (26) Nicholas Myburgh, burgemeester van Swellendam.
Die volgende kandidate beklee die posisies (in hakies) op die Wes-Kaapse lys vir die nasionale raad van provinsies: (1). Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek en kiesafdelingshoof vir Mosselbaai; (3) Isaac Sileku, stadsraadslid van die Theewaterskloof-distriksmunisipaliteit en (4) Annelie Rabie, burgemeester van die Sentraal Karoo-distriksmunisipaliteit.
Simmers, sekretaris van die oosstreek, het by navraag gesê die streek verwelkom die lyste. "Sou die DA uitstekend doen, sal dit die eerste keer wees dat ons 'n dinamiese groei van kiesafdelingshoofde uit ons streek het."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'