ELECTION NEWS - In George het drie kleiner partye 'n beduidende groei in kieserssteun getoon, terwyl die twee grotes, die DA en ANC, persentasiegewys minder stemme gelok het as in 2014. Icosa het ook minder kiesers na die stempunte gelok.
Die VF Plus het in George verras met 'n groei van 3,99% in die nasionale verkiesing en toon provinsiaal groei van 3,19%. Die EFF se groei op nasionale vlak is 1,66%, en provinsiaal 1,51%. Ook die ACDP het groter steun ontvang met 'n 1,58% toename nasionaal en 1,38% groei provinsiaal.
Sedert die 2014-verkiesing toon die steun aan die DA 'n afname van 3,73% provinsiaal en 3,3% nasionaal. Die ANC se steun het gekrimp met 6,73% provinsiaal en 5,18% nasionaal. Icosa se steun in George toon 'n afname van 2,31% vir die provinsiale verkiesing en 1,74% afname nasionaal.
As nuweling het die PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners) besonder goed gevaar met sy eerste deelname in die provinsiale verkiesing. Die PBI het 4,40% van die stemme in George ontvang (2 882 stemme) - net 'n kort kop agter die VF Plus wat steun van 4,41% vir die provinsiale verkiesing ontvang het. Die PBI het nie nasionaal deelgeneem nie.
Nuwe party, Good het provinsiaal 2,13% (1 396) van die stemme op hulle verenig. Nasionaal is Good se stempersentasie in George 2,23% (1 499 stemme).
Die ANC-voorsitter van George substreek, Darryll Sauer.
DA behou Wes-Kaap
Ofskoon die DA 'n knou gekry het, behou die party steeds die Wes-Kaap. In George het die party 50,98% steun vir die provinsiale verkiesing ontvang en 50,05% vir die nasionale verkiesing. Die grootste opposisie, die ANC, toon in George 'n provinsiale steun van 29,73% en nasionaal 31,99%.
DA-voorsitter van die Oosstreek, Jaco Londt, het kiesers bedank vir hul ondersteuning. "Ek is verheug dat ons die Wes-Kaap onder baie moeilike omstandighede behou het. Ons het 'n uitstekende premierskandidaat en sien uit na die pad vorentoe onder Alan Winde se leiding."
Londt het gesê daar is wel bekommernisse oor George wat baie dringende aandag moet geniet. "Ons hoop van harte dat die regsprosesse van die Valke so gou moontlik afgehandel word," het hy gesê.
Die ANC-voorsitter van George substreek, Darryll Sauer, is positief oor die afgelope verkiesing. Hy het gesê daar was egter heelwat verkiesingsapatie met 'n lae opkoms van kiesers. "Ons werk nou na die 2021 plaaslike verkiesing," het hy gesê. "Dit is 'n groot uitdaging om seker te maak jong kiesers word wel geregistreer en stem. Ons ou kiesers moet ook oortuig word om weer te kom stem. Ons president het 'n nuwe era ingelui en ons wil op daardie positiwiteit bou en almal deel maak van die stemproses."
Adv. Gert van Niekerk, plaaslike leier van die Vryheidsfront Plus.
Klein maar 'getrein'
Volgens adv. Gert van Niekerk, plaaslike leier van die VF Plus, het 'n intensiewe veldtog wat kiesers inlig oor die party se waardes en dissiplines bygedra tot hul sukses in die verkiesing.
"Mense het soms 'n persepsie dat die VF Plus se doelwit is om tuisstaat in Orania te vestig en met pekanneute te boer. Dit is van alle waarheid ontbloot. Die party is 'n multi-kulturele politieke organisasie wat opstaan vir die regte van minderheidsgemeen-skappe wat met kultuur en taal histories met mekaar verbind is."
Van Niekerk het gesê dat die DA se najaag van die swart stem die tradisionele wit en bruin kiesers vervreem het. "Dit was ook bydraend tot ons sukses."
PBI-leier, Virgill Gericke, het gesê sy party het 'n veldtog onder moeilike omstandighede geloods. "Ons is 'n plaaslike party. Gegewe die moeilike omstandighede en die feit dat ons onbekend is in die provinsie, het ons baie goed gevaar," het Gericke gesê.
"Ons beskou nie ons sukses in George as 'n maatstaf vir 2021 nie, ons verwag om baie beter te vaar."
Die PBI het ook in die Oos-Kaap aan die provinsiale verkiesing deelgeneem. Gericke het gesê ofskoon dit nie daar so goed gegaan het nie, gaan sy party beslis weer daar deelneem. Hy het die PBI se kiesers bedank vir hul ondersteuning.
PBI-leier, Virgill Gericke.
Top 10 parties in George
Based on the 67 289 national votes released, the top 10 parties in George are as follows:
- DA - 33 680 (50,05%)
- ANC - 21 525 (31,99%)
- FF Plus - 4 009 (5,96%)
- EFF - 2 123 (3,16%)
- ACDP - 1 734 (2,58%)
- GOOD - 1 499 (2,23%)
- ICOSA - 716 (1,06%)
- ACO– 378 (0,56%)
- COPE – 217 (0,32%)
- UDM – 143 (0,21%)
Based on the 65 446 provincial votes released, the top ten parties in George are as follows:
- DA - 33 367 (50,98%)
- ANC - 19 459 (29,73%)
- FF Plus - 2 884 (4,41%)
- PBI - 2 882 (4,40%)
- EFF - 1 866 (2,85%)
- ACDP – 1 470 (2,25%)
- GOOD - 1 396 (2,13%)
- ICOSA - 676 (1,03%)
- ACO- 336 (0,51%)
- COPE - 139 (0,21%)
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'