Update
TUINROETE NUUS - Thembalethu-polisie het 'n deurbraak gemaak in die soektog na twee vroue wat as vermis aangemeld is nadat vier verdagtes in hegtenis geneem is op klagtes van moord en ontvoering op Sondag 29 Desember.
Die ondersoek in die verdwyning van die twee vroue, 'n ma en dogter het onthul dat hul van 'n huis in Sone 3 ontvoer is op Vrydag 27 Desember toe hul in 'n bakkie forseer is. Hulle is op Saterdag 28 Desember as vermis aangemeld deur familie en 'n soektog is van stapel gestuur. Die uitgebreide soektog het polisie gelei na 'n mediese fasiliteit in George waar 'n 23-jarige vrou met veelvuldige beserings gevind is.
Tydens die ondersoek het nog 'n 23-jarige vrou na vore gekom en beweer sy is ook aangerand deur die verdagtes, maar kon ontsnap.
Die polisie het met verdere ondersoek op die liggaam van 'n 61-jarige vrou in die bosse naby Pacaltsdorp afgekom.
Die drie slagoffers is volgens inligting aangerand in 'n taverne in Sone 3, Thembalethu, George. 'n Nadoodse ondersoek om die oorsaak van die 61-jarige vrou se dood te bepaal sal die week gedoen word.
Die vier verdagtes, tussen die ouderdomme van 30 en 42 bly in polisie-aanhouding.
Daar word verwag dat die vier verdagtes op Dinsdag 31 Desember in die Thembalethu-landdroshof sal verskyn op klagtes van moord en ontvoering.
Aangesien hierdie 'n deurlopende polisie-ondersoek is kan nog klagtes bygevoeg word.
Vorige artikel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’