Update
GEORGE NUUS - Die sewe beskuldigdes in die moordsaak van Sylvester Uithaler (33) sal weer op Dinsdag 3 Februarie in die George-streekhof verskyn vir 'n beplande pleitooreenkoms.
Die saak is vroeër die maand uitgestel omdat een van die beskuldigdes se regsverteenwoordiger 'n knieoperasie moes ondergaan.
Uithaler is op Sondag 21 Oktober 2023, net ná 17:00, in die parkie tussen Mission-, Lammervanger- en Reierstraat ernstig aangerand en vir dood gelos. Hy is op Saterdag 4 November in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad dood verklaar nadat sy lewensondersteuning-stelsel afgeskakel is.
Die ses aanvanklike beskuldigdes - 'n 18-jarige, Robin Gordon (22), Aisha Saaiman (56), Danelle (33), Legan (28) en Shamila Canary (37) - is tydens hul eerste hofverskyning op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. 'n Sewende verdagte, Keagon van Wyk (23), wat later in hegtenis geneem is, is ook op borgtog vrygelaat.
Volgens beskikbare inligting het die groep Uithaler vasgegryp, met 'n mes gesteek en nadat hy neergeval het, herhaaldelik op sy kop getrap.
Intussen het 'n onverwante voorval tydens 'n Kersliedere by kersliggeleentheid in Pacaltsdorp Saterdagmiddag, 13 Desember, weer die klem op bakleiery tussen die jongklomp gelê toe twee groepe van Andersonville en Sea View blykbaar mekaar met messe, kapmesse, tuinvurke en byle aangeval het.
Drie mense is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem en die gemeenskap en polisie moes ingryp om die groepe uitmekaar te hou en die situasie te kalmeer.
Die Pacaltsdorp Men's Group, -Women's Group en Leraarsforum het die jongmense aangespoor om hulself van die tipe geweld te weerhou, verál tydens die Kerstyd. Vergaderings is ook tussen die twee groepe en gemeenskapsleiers gehou waarin hulle gedrag sterk veroordeel is.
"Ons doen 'n beroep op ons jongmense om die owerhede, hul ouers, die gemeenskap en hulself te respekteer, en om argumente op 'n nie-gewelddadige manier uit te sorteer. Almal is iemand se kind," het Charly Daman, voorsitter van die Men's Group, gesê.
Vorige artikels:
- Uithaler-moordsaak weer November in die George-streekhof
- Pleitooreenkoms in Uithaler-moordsaak
- Sewende verdagte vas in moordsaak
- Ses nou van moord aangekla
- Roudienste vir moordslagoffers
- Jongman sterf, verdagtes kry borgtog
- Ses in hof vir aanval op man in Pacaltsdorp
- Man erg aangerand en vir dood agtergelaat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’