GEORGE NUUS - Twee broers van Pacaltsdorp, Jhrlique Olkers en Maciano Danster, wat op die moord van Daywin Jonas teregstaan, se saak is uitgestel tot Woensdag 24 Julie vir dossierafskrifte en konsultasie met hul regsverteenwoordigers.
Daywin Jonas, oorspronklik van Joubertina, het in Conville gewoon en op 26 Julie 2023 vermis geraak toe hy sy huis verlaat het om 'n voornemende koper vir sy wit VW Citi Golf te ontmoet.
Hy het omstreeks 21:30 daardie aand vir sy meisie 'n boodskap gestuur waarin hy vertel het dat hy op pad is om die koper in die buitewyke van Pacaltsdorp te ontmoet. Kort daarna was hy onbereikbaar.
Sy verkoolde liggaam is die volgende dag langs die N9 naby Uniondale gevind en is deur middel van DNS-toetse uitgeken.
Die broers staar aanklagte van moord, vervalsing, besit van gesteelde eiendom en bedrog in die gesig ná hulle glo Jonas om die bos gelei en hom vermoor het.
Die polisieondersoek het op 3 Augustus 2023 beamptes na verskeie huise in Pacaltsdorp gelei waar motoronderdele van Jonas se voertuig gevind is. Sy selfoon is ook by 'n huis in Kerkstraat gevind nadat dit verkoop is.
Die beskuldigdes is kort daarna in hegtenis geneem. Albei het hul borgtogaansoeke laat vaar.
Jonas is na bewering op 'n kleinhoewe in Hansmoeskraal vermoor.
Daar word vermoed dat die verdagtes sy liggaam in die kattebak van Olkers se swart Volkswagen Golf - 'n voertuig wat die polisie in hul ondersoek ontdek het in Junie 2022 in Caledon gesteel is - gesit het terwyl die wit Golf gestroop is.
Dieselfde aand het hulle petrol by 'n vulstasie in George gekoop en in die rigting van Uniondale op die N9 gery waar hulle na bewering Jonas se liggaam in 'n vullisblik langs die pad gesit en dit aan die brand gesteek het.
Gemeenskapsleiers en ondersteuners het in Augustus verlede jaar voor die George-landdros-hof betoog teen die borgtog van Jhrlique Olkers en Maciano Danster. Foto: Kristy Kolberg
Vorige artikels:
• Verbyrit en begrafnis vir Daywin
• Daywin Jonas-moord: Broers laat vaar borgtogaansoek
• Opvolg: Broers laat vaar borgtogaansoek in Daywin Jonas-moord
• DNA test identifies body as Daywin Jonas'
• Missing man murdered
• Missing Daywin's car found, two in custody
• Vermiste Daywin: Ondersoek lei polisie na Pacaltsdorp
• Still no trace of missing man
• Search for missing man continues
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’